Sinatra vir wêreld se ‘eensaamste olifant’

Kavaan, wat al bestempel is as die wêreld se eensaamste olifant, word eersdaags verskuif. (Foto: Four Paws)

Nie net is Kavaan, wat 35 jaar lank in die Marghazar-dieretuin in Islamabad aangehou is, as die wêreld se “eensaamste olifant” bestempel nie – Kavaan is dikwels ook onrustig.

En hoe kalmeer jy ʼn onrustige olifant?

Jy sing vir hom ʼn Frank Sinatra-liedjie, sê dr. Amir Khalil, ʼn veearts verbonde aan die internasionale dierewelsynsorganisasie Four Paws.

Four Paws het Vrydag namens die Pakistanse owerhede mediese ondersoeke op die olifant gedoen om seker te maak hy is gesond genoeg om te reis. Die span het bevestig dat hy gesond genoeg is vir die hervestiging, moontlik na ʼn toevlugsoord in Kambodja, het MJ Lourens, woordvoerder van Four Paws SA, gesê.

Die hooggeregshof in Islamabad het in Mei vanjaar beslis dat die omstrede dieretuin weens swak omstandighede gesluit moet word. Die regering het Four Paws daarna genooi om seker te maak die diere word veilig hervestig.

Twee leeus wat ook verskuif sou word, het intussen egter gevrek voordat hulle hervestig kon word. Lourens sê van die opsigters het ʼn vuur in die leeus se hok gemaak in ʼn poging om die diere in hul vervoerkratte in te dwing, waarna die leeus gevrek het.

Die Four Paws-span, bestaande uit spesialis-veeartse en kenners, het onder streng veiligheidsmaatreëls die ondersoek op die olifant gedoen. Nadat die oorgewig olifantbul onder verdowing geplaas is, het veeartse bloedmonsters geneem, hom gemeet en ʼn mikroskyfie in sy skouer geplant.

Kaavan word rustiger sodra hy Frank Sinatra se My Way hoor. (Foto: Four Paws)

“Weens wanvoeding en ʼn tekort aan oefening toon die olifant tekens van vetsug. Sy naels is ook gekraak en misvorm wat moontlik veroorsaak is deur die ongeskikte vloeroppervlak in sy kamp. Om hierdie probleem op te los, sal hy ʼn langtermyn-voetsorgprogram moet ondergaan wat nie by die Marghazar-dieretuin moontlik is nie,” sê Khalil.

Dr. Frank Göritz, hoofveearts van die Leibniz-instituut vir dieretuin-en-wildlewenavorsing in Berlyn, sê ʼn tekort aan oefening en gedragsverryking, asook die afwesigheid van ʼn maat, het beteken dat Kavaan ongelooflik verveeld is.

“Hy het reeds die stereotiepe gedrag getoon waar hy sy slurp vir ure van links na regs swaai soos wat hy sy kop skud. Sy bloedtoetse lyk egter goed en sy gesondheid laat dit toe dat hy hervestig word,” sê Göritz.

Kavaan is in 1985 na Pakistan gestuur as ʼn geskenk van Sri Lanka aan die land. Die olifant het van 1990 ʼn kamp met sy maat, Saheli, gedeel, maar sedert haar dood in 2012 het hy heeltemal vereensaam.

Four Paws sê ʼn internasionale veldtog is in 2016 van stapel gestuur om die olifant te red. Dit was egter ʼn lang stryd en die hof het eers vroeër vanjaar ʼn beslissing oor die dier se lot gemaak.

Die olifant het die afgelope paar dae verskeie mediese toetse ondergaan. (Foto: Four Paws)

Afgesien van Kavaan ondersteun Four Paws ook die hervestiging van twee voormalige sogenaamde dansbere. Dié bere word opgelei om vir mense te dans en hulle kwansuis só te vermaak.

Die besluit oor waar sommige van die ander diere uit die dieretuin hervestig gaan word, is nog hangend.

Vir Kavaan wink daar oënskynlik egter ʼn blink nuwe toekoms.

En Frank Sinatra gaan hom tot dan rustig hou.

“Toe ons 12 dae gelede hier aangekom het, het ek sy vertroue begin wen en vir hom Frank Sinatra se ‘My way’ gesing. Dit het hom laat bedaar, want hy het intussen ʼn band met my gevorm en is rustig as ons hom ondersoek,” sê Khalil.

Sodra die olifant lyk of hy geïrriteerd raak, begin Khalil spontaan sing en Kavaan ontspan dadelik.

Meer as 500 diere het volgens Four Paws die afgelope paar jaar uit die dieretuin verdwyn en net die afgelope jaar het 24 diere daar reeds gevrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Four Paws is nou werklik die Alpha en Omega van mense wat kan se hulle is kamvegters vir diere in nood. Ek wens hulle, Kavaan en die 2 dansende bere voorspoed vorentoe. Hulle omstandighede kan net verbeter in Four Paws se hande. Ek hoop hulle kan nog diere daar red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.