Sjimpansees, gorillas sterf in brand by dieretuin

Argieffoto van Krefeld-dieretuin (Foto: Magnus Neuhaus/Facebook)

Meer as 30 diere, waaronder sjimpansees, orangoetangs en gorillas, is dood toe ʼn brand by Krefeld-dieretuin in Duitsland uitgebreek het.

Die dieretuin het die voorval as ʼn “ondenkbare tragedie” beskryf. Die brand het Woensdagoggend kort ná middernag uitgebreek.

Die dieretuin het aanvanklik op Facebook gesê al die diere in die aaphok het in die brand omgekom, maar het later gesê twee sjimpansees het wel oorleef.

“Die sjimpansees Bally en Limbo het wonderbaarlik die verwoestende brand oorleef,” het die dieretuin gesê. “Hulle het slegs geringe beserings opgedoen en word nou in twee bokse aangehou in die gorillatuin. Verskeie veeartse van die dieretuin versorg hulle.”

Vrugtevlermuise en voëls het ook in die brand omgekom.

Die nabygeleë gorillatuin is nie deur die brand geraak nie.

Plaaslike media het die oorsaak van die brand toegeskryf aan vuurwerke, maar die dieretuin het nog nie kommentaar gelewer oor die oorsaak van die brand nie.

Die polisie stel ondersoek in en vermoed dat die brand moontlik deur ʼn Chinese lantern veroorsaak is. Gerd Hoppmann, woordvoerder van die Krefeld-polisie, het aan verslaggewers gesê ooggetuies het lanterns naby die dieretuin opgemerk. “Ons kan aanneem hulle het in die gebied grond toe geval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.