Skaakikoon dagvaar Netflix oor ‘The Queen’s Gambit’

Nona Gaprindashvili in 2009. (Foto: VANO SHLAMOV / AFP)

Die Georgiese skaaklegende Nona Gaprindashvili het ʼn klag van naamskending van $5 miljoen (sowat R 73 miljoen) teen Netflix ingedien en voer aan haar uitbeelding in die gewilde televisiereeks The Queen’s Gambit was “seksisties en verkleinerend”.

ʼn Afskrif van die hofaansoek is Donderdag ingedien, met ʼn Kaliforniese hof wat Netflix daarvan beskuldig dat hy Gaprindashvili se prestasies in die fiksionele reeks verdraai word.

Dit voer aan dat die program valslik voorgestel het dat die voormalige vrouewêreldkampioen nooit teen mans skaak gespeel het nie, en dat Gaprindashvili, nou 80 jaar oud, in werklikheid met tientalle top-manspelers meegeding het en 28 van hulle geklop het.

“Netflix het blatant en moedswillig gejok oor Gaprindashvili se prestasies,” lui die hofstukke.

“Die aantyging dat Gaprindashvili nooit teen mans gespeel het nie, is vals en is seksisties en verkleinerend. Om sake te vererger het Netflix haar as ʼn Rus voorgestel, ondanks die wete dat sy ʼn Georgiër is.”

Netflix het in ʼn verklaring gesê hy het “die hoogste respek vir me. Gaprindashvili en haar roemryke loopbaan, maar ons glo nie hierdie bewerings het enige meriete nie en sal die saak ten sterkste teenstaan”.

Gaprindashvili is in 1941 in Zugdidi in die weste van Georgië gebore en het skaak gespeel vandat sy 13 jaar oud was.

Sy het die Wêreldkampioenskap gewen op 20-jarige ouderdom en het haar titel vier keer suksesvol verdedig voordat sy haar kroon aan ʼn ander Georgiese speler, die 17-jarige Maia Chiburdanidze, in 1978 afgestaan het.

Sy het in dieselfde jaar die eerste vrou geword wat met die titel van grootmeester vereer is deur die Internasionale skaakfederasie vir wêreldskaak (FIDE).

Volgens Netflix is The Queen’s Gambit sy grootste beperkte reeks nóg, met meer as 62 miljoen huishoudings wêreldwyd wat in die eerste 28 dae nadat dit uitgereik is, daarna gekyk het.

In Julie het Netflix se intekenaarsyfer op sowat 209 miljoen intekenaars wêreldwyd gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Indien dit nie adverteer word as gebasseer op ware lewens feite nie, is dit mos inderdaad fiksie soos Blits noem en het sy nie ‘n voet om op te staan nie. Ek wonder oor die bedrae wat die mense mee vorendag kom om te dagvaar. Buitensporige bedrae geld wat mens laat wonder waaroor dit werklik gaan

Mariana ·

Ook gedink dit was fiksie, nou blyk dit ‘n biografie te wees?

Blomme ·

Is dit ń geval van hoe meer jy het hoe meer wil jy hê. Netflix sal seker miljoene moet opdok vir haar eis.

Pieter ·

Indien die fliek haar suggereer, moet hulle maar skik. Vir fiksie moes hulle dit nooit op haar gebaseer het nie.

FranWilder ·

Hierdie is net soos daai baba op die Nirvana album wat nou skieluk wakker geskruk het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.