Skaal swaai in guns van kwalifikasies vir Filippynse polisie

(Foto: Unsplash)

Die Filippynse polisiemag het ’n vereiste wat bepaal dat beamptes eers hul liggaamsmassa-indeks (LMI)-teikens moet bereik voordat hulle bevorder kan word, tydelik opgeskort te midde van die Covid-19-pandemie.

Polisiebeamptes wat oorgewig is, is glo al jare ’n probleem in die Filippynse polisiemag. ’n Studie in 2019 het getoon dat byna 35% van die land se polisiemag in daardie stadium oorgewig en byna 10% vetsugtig was.

Die voormalige polisiehoof, Debold Sinas – wat al ruiterlik erken het dat hy self gewig sou wou verloor deur gesonder te eet en meer te oefen – het verlede jaar aan die begin van die Covid-19-pandemie dit vir die 220 000 lede van die Filippynse polisiemag verpligtend gemaak om daagliks te oefen en maandelikse liggaamsmassa-indeks (LMI)-lesings in te dien.

Diegene wat nie hul LMI-teikens kon haal nie, kon eenvoudig nie bevorder word nie, sê personeelhoof, genl.maj. Rolando Hinanay.

Hinanay het egter nou ’n skrywe aan genl. Guillermo Eleazar, die nuwe polisiehoof, gerig waarin hy versoek dat die vereiste opgeskort word.

Hinanay het in die skrywe aangevoer dat Covid-19-afsonderingsregulasies dit tans vir beamptes moeilik maak om te oefen en gewig te verloor. “As gevolg hiervan is baie personeel vir bevordering gediskwalifiseer.”

Die versoek is toegestaan.

“Duisende van ons personeel het simpatie en begrip nodig as hulle hul taak moet handhaaf om die minimum vereiste protokol vir openbare gesondheidsveiligheid 24 uur [per dag] toe te pas te midde van hierdie pandemie,” het Eleazar gesê.

Die polisiehoof het wel benadruk dat die vereiste slegs tydelik opgeskort word en vorentoe weer toegepas sal word sodra omstandighede na normaal terugkeer.

Filippynse polisiebeamptes moet glo ’n LMI van tussen 18,5 en 27 hê, afhangend van hul ouderdom, om vir diens te kwalifiseer. ’n LMI van tussen 18,5 en 24,9 word oor die algemeen as ’n “gesonde gewig” beskou.

Daar is wel in ’n petisie, wat deur ontevrede beamptes ingedien is, aangevoer dat die beleid “negatief” is en teen personeel met ’n hoër LMI as die “normale” diskrimineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Hier by ons gaan hulle n drie meter maatband moet gebruik. Hier in anc land sit hulle heeldag en kfc eet.

Stofdonkie ·

KFC se omset sal halveer as hierdie reel by ons ingestel word.

Stofdonkie ·

Meer as die helfde van ons polisiemag sal afgedank moet word as dit hier geimplimenteer word. Meeste polisie beamptes is so dik hulle kan skaars loop wat nog van hardloop as ‘n verdagte sou weghardloop? Dan praat ek nie eers van die wat nog bestuur ook maar skaars die voertuig kan hanteer nie omdat hulle te dik is om hulle arms te beweeg.

Marius Gerhardus ·

Aggenee. As dit by ons gaan gebeur gaan werkloosheid syfer met 75% styg en pisie kantore sal monumente word. Gelukkig is hier n stelsel van bevordering op ras en geslag…. Nie op gewig en kwalifikasies nie. Sterkte julle. Wil graag ons polisie mag oor 10 jaar sien. Onluste? Hoeveel polisie lede magi eers vuurwapens hanteer nie en sit in kantore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.