Skaars wit kameelperd gestroop; kalfie glo dood van honger

Twee van die Ishaqbini Hirola-gemeenskapsbewaringsgebied se skaars, wit kameelperde. (Foto: Hirolo-bewaringsgebied)

Kenia se enigste wit kameelperdkoei is in Ijara, in die Garissa-streek, gestroop.

Die Ishaqbini Hirola-gemeenskapsbewaringsgebied het gesê gewapende stropers het die kameelperd doodgemaak. Haar kalfie is in Augustus verlede jaar gebore, maar het vermoedelik van die honger gevrek nadat sy ma doodgemaak is.

Net die diere se beendere is gevind. ʼn Enkele wit bul is nou ál wat oorbly.

“Dit is ʼn besonder hartseer dag vir die Ijara-gemeenskap, maar ook vir die hele Kenia. Ons is die enigste gemeenskap ter wêreld wat die voogde van wit kameelperde is.

“Die voorval is ʼn slag vir die enorme vooruitgang wat die gemeenskap gemaak het om dié skaars en unieke spesie te bewaar. Dit is ʼn wekroep vir groter steun vir bewaringsprojekte,” het Mohammed Ahmednoor, bestuurder van die bewaringsgebied, gesê.

Die wit kameelperde het in 2017 hoofopskrifte gehaal nadat hulle die eerste keer in Kenia en Tanzanië opgemerk is. Die diere se spookagtige wit voorkoms is nie weens albinisme nie, maar weens ʼn toestand bekend as leukisme. Dit beteken dat diere op sommige liggaamsdele pigmente kan produseer, maar hulle bly meestal wit.

“Dít is ʼn langtermynverlies. Al die genetiese studies en navorsing – wat ʼn beduidende belegging deur navorsers in die gebied tot gevolg gehad het – is nou ook daarmee heen,” het Ahmednoor gesê.

“Die wit kameelperde was ook ʼn groot toerismetrekpleister.”

Die Kenia-wildlewevereniging het gesê hy ondersoek die voorval.

“Ons spanne op die grond het die bene gesien van wat ons glo die twee kameelperde is. Die bene is na raming sowat vier maande oud,” het die vereniging gesê.

“Die bestuur van die bewaringsgebied het ons oor die vermiste kameelperd en kalf ingelig nadat die diere ʼn geruime tyd nie opgemerk is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

Die arme kalfie.Daar is geen liefde vir diere by die stropers nie.

Benita ·

Daar is geen liefde hoegenaamd in hierdie tipe mense nie……dis vrek hartseer!!!

Dries ·

En so sal die mens alles vernietig. Wereldbevolking neem toe, en biodiversiteit word geheel en al uitgeroei.

007 ·

Dries dis nie mense daai nie. Kyk bv die Covid virus, dis omdat hulle enige ding vreet en nie weet van die gevolge nie. Hoeveel mense is alreeds dood en hoeveel gaan nog sterf agv dit. Mens moet die virus in renoster horing kan inplant!

Plaaskind ·

Maak my boosaardig kwaad. Selfsugtige hartelose mensdom.

Willem ·

Africa Addio.
Gaan kyk die fliek op YouTube. The more things change the more they stay the same…

JM ·

Daar bestaan toenemend ‘n sieklike en selfsugtige gees van vernietiging van roei uit, breek af! As alles verwoes en vernietig is, wat dan?! Die mens is sy eie grootste vyand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.