Skaatser 37 meter onder ys gevind

Nooddienste het lank na ‘n bejaarde man gesoek wat in ‘n toegeysde dam geval het. (Foto: Facebook)

ʼn Bejaarde skaatser is dood toe die yslaag oor ʼn dam in Kalifornië meegegee het terwyl ʼn groep mense daarop geskaats het.

Ses van die skaatsers het Saterdag in die yswater in die Stampede‑reservoir in die noorde van Kalifornië geval, berig die nuuskanaal CBS. Luidens die berig het twee van die skaatsers wat nie in die dam geval het nie, die ander uitgehelp. Hulle is deur paramedici op die toneel behandel.

Die 72-jarige William Smallfield kon egter nie uit die water gehaal word nie en soek‑en‑reddingspanne asook polisieduikers het ʼn soektog na hom van stapel gestuur. Sy liggaam is eers Sondag sowat 37 meter onder die ys gevind en uitgehaal.

Beamptes van die Truckee Fire Protection District het inwoners in ʼn Facebook-plasing gewaarsku om eerder nie op toegeysde damme te skaats nie, aangesien dit onmoontlik is om te weet hoe stabiel die ys is, veral weens onlangse warmer temperature.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.