Vier jaar gelede, terwyl konstruksiewerkers op die terrein gegraaf het waar die Wêreldhandelsentrum eens gestaan het, het hulle stom verbaas 6,7 meter onder die grondvlak op ‘n skeepswrak afgekom.
Hoewel die skip waarvan die deel wat herwin is tien meter lank is, nie presies geïdentifiseer kon word nie, is wel bepaal waar en wanneer dit gebou moes wees. Deur onder meer die ringe van die hout te ontleed, kon bepaal word waar die bome gegroei het waarvan dit gebou is, en hoe lank gelede die skip gebou is.
Dit blyk dat die romp van wit eik uit die omgewing van Philadelphia aan die VSA se ooskus kom, en so ook die kiel wat van ‘n skaarser houtsoort gemaak was. Die skip moes in ongeveer 1773 gebou gewees het. Die ringe verklap die klimaat oor ‘n lang tydperk, en so kan bome wat in dieselfde omgewing gegroei het, met mekaar in verband gebring word.
Tonnels wat deur wurms in die hout geboor is, het verklap dat die skip minstens een keer in sy dienstydperk besoek aan die Karibiese See moes gebring het.
Die ondersoek het ook aan die lig gebring dat die hout uit dieselfde omgewing is, en uit dieselfde tyd dateer as die hout wat gebruik is om ‘n deel van die historiese Independence Hall te bou. Die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring en die grondwet is in hierdie gebou geteken.
Dit is steeds nie duidelik hoe die skip op die bepaalde plek te lande gekom het nie. Die plek waar dit gevind is, is destyds opgevul, en dit is onseker of die skip as deel van die opvulmateriaal gebruik is, en of dit vroeër op die plek gesink het en toegegooi is.
Klik hier om die volledige artikel in Discovery.com te lees.
Di’s nou interessante nuus. Ek hou van interessante nuus. :-)