Skieter brand los in Tsjeggiese hospitaal

Die owerhede Dinsdagoggend op die toneel. (Foto: Jaroslav Ozana/CTK via AP)

Ses mense is Dinsdagoggend in ’n hospitaal in die Tsjeggiese Republiek doodgeskiet. Die vermeende skieter het ná die voorval op die vlug geslaan en is in dié stadium steeds soek.

BBC berig polisiebeamptes is omstreeks 07:00 plaaslike tyd na die Ostrava-opleidingshospitaal in die noordoostelike stad van Ostrava, sowat 370 km oos van Praag, ontbied.

Die skietvoorval het na bewering vanoggend in die hospitaal se traumakliniek plaasgevind. Die hele hospitaal is intussen ontruim en sekuriteit is in dié land opgeskerp terwyl die polisie op die verdagte se spoor is.

CBS News berig die polisie is tans op soek na ’n verdagte wat in ʼn silwergrys Renault Laguna op die vlug geslaan het. Hy het na bewering ’n rooi baadjie aangehad ten tye van die voorval.

Andrej Babiš, die Tsjeggiese Republiek se eerste minister, het vanoggend bevestig dat hy op pad is na die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.