Skieter brand los op mense in Jerusalem

Israeliese veiligheidsmagte staan Sondag wag in Jerusalem se Ou Stad. (Foto: Menahem KAHANA / AFP)

Een persoon is dood en drie ander gewond toe ’n militant van die Palestynse Islamitiese Hamas-beweging Sondag in Jerusalem se Ou Stad op mense losgebrand het. Die aanvaller is self later deur polisiebeamptes doodgeskiet.

“Daar was vanoggend ’n ernstige skietaanval in die Ou Stad van Jerusalem,” het Israel se eerste minister, Naftali Bennett, in ’n verklaring gesê. “Op die oomblik het ons een sterfgeval en drie gewondes. Twee polisievroue en een polisieman het die terroris vinnig geneutraliseer.”

Die aanval volg enkele dae nadat Israelse veiligheidsmagte Woensdag ’n 16-jarige aanvaller doodgeskiet het wat twee polisiebeamptes in die Ou Stad met ʼn skerp voorwerp gesteek en gewond het.

Israel se minister van openbare veiligheid, Omer Bar-Lev, het Sondag se skieter as ʼn Palestyn geïdentifiseer wat in die Shuafat-woonbuurt in die ooste van Jerusalem gewoon het.

“Hy was ʼn lid van Hamas, die politieke tak, nie die gewapende vleuel nie,” het Bar-Lev aan Israel se Kan-televisiekanaal gesê. Hy het glo sy wapen – ʼn soort submasjiengeweer – onder sy klere versteek voordat hy losgebrand het.

“Dit blyk dat hy ʼn groot galabiya (mantel) gedra het of dat hy homself as ʼn Ortodokse Jood vermom het,” het Bar-Lev gesê.

Die aanvaller se vrou is glo drie dae gelede land uit terwyl sy seun ook in die buiteland is.

“Dit blyk dat hierdie aanval met voorbedagte rade gepleeg is,” het Bar-Lev gesê.

Luidens mediese bronne is twee gewonde burgerlikes en twee polisiebeamptes ná die voorval na die Hadassah-hospitaal in Jerusalem gehaas waar een van hulle, ’n man in sy 30’s, aan sy beserings beswyk het.

Bennet het intussen gevra dat sekuriteit in die stad opgeskerp word en ʼn beroep op inwoners gedoen om ekstra waaksaam te wees uit vrees dat nog aanvalle moontlik geloods kan word.

Tientalle polisiebeamptes is intussen in die historiese ou gedeelte van die stad ontplooi terwyl werkers vroeër vandag poele bloed van die keistene afgespoel het, het ʼn AFP-verslaggewer gesê.

Die Ou Stad in die oostelike deel van Jerusalem is die gebied waarop Palestyne aanspraak maak as die hoofstad van hul toekomstige staat. Israel het Oos-Jerusalem in 1967 se Sesdaagse Oorlog ingeneem en geannekseer.

Hamas, tans aan bewind in die Gasa-strook, het die skieter met die aanval en die “voortsetting” van die stryd om Jerusalem te “bevry” geluk gewens, sonder om spesifiek verantwoordelikheid vir die aanval te aanvaar.

Dit volg presies ses maande ná die dae lange Gasa-oorlog tussen die Palestyne en Israelse magte in Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Francios ·

Die verskil daar is dat hulle polisie paraat en aan diens was en daadwerklik opgetree het.

Eugene ·

Ek hoop ons regering besef nou dat Israel net hulself teen die terroristiese Palestina, wat hulle so ophemel, beskerm

Harley Davidson ·

Die Palestyne het nie ore nie domastrant soek moeilikheid met Israel en waneer hulle pak slae kry soek hulle simpatie by die wêreld.

Frank John ·

Die wêreld besef nognie dat Israel God se uitverkoorde volk is nie, beter om saam met hulle te staan en te help as teen hulle. Ek sien hoe God strafgerig hou oor almal wat Israel nie help nie, al is ginirasies later.

Gary ·

En Hamas wens die moordenaar van n onskuldige persoon nog geluk. siek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.