Skieter wat glo 18 afmaai steeds op vrye voet

(Foto: Joseph Prezioso/AFP)

ʼn Reusepolisiesoektog is steeds aan die gang na die man wat glo minstens 18 mense in die stad Lewiston in die Amerikaanse deelstaat Maine doodgeskiet het.

Die skietvoorvalle het by ʼn kegelbaan en restaurant en kroeg plaasgevind. Tientalle wetstoepassers het gistermiddag op die 40-jarige verdagte, Robert Card, se gesinshuis toegeslaan, maar teen die aand weer die eiendom verlaat om elders na hom te soek.

’n Wye gebied om Lewiston bly ingeperk, meer as 24 uur nadat Card na bewering die dodelikste massaskietery in Amerika vanjaar gepleeg het. Minstens 13 mense is ook gewond. Daar is vroeër berig die dodetal is 22, maar dit is intussen afwaarts aangepas.

Die owerhede het padblokkades opgerig, skole en besighede is gesluit en inwoners is aangesê om binnenshuis te bly. Goewerneur Janet Mills het gesê die verdagte word “as gewapen en gevaarlik beskou”.

Die plaaslike polisie het ʼn foto van die skieter op Facebook geplaas waar hy met ʼn semi-outomatiese wapen by die kegelbaan gesien kan word. Nuuskanale het beeldmateriaal uitgesaai van mense wat verskrik uit die kegelbaan vlug nadat die skietery Woensdagaand begin het.

Card is ’n reserwelid van die Amerikaanse weermag en volgens Amerikaanse media is hy onlangs vir psigiatriese behandeling gestuur nadat hy gesê het hy hoor stemme.

Pres. Joe Biden het opdrag gegee dat vlae by die Withuis en alle regeringsgeboue halfstok moet hang.

“Weereens is ons nasie in rou na nog ’n sinnelose en tragiese massaskietery,” het hy gesê.

Biden het bygevoeg dat die wapengeweld wat die Verenigde State teister “nie normaal is nie, en ons kan dit nie aanvaar nie” en wetgewers aangemoedig om ’n wetsontwerp te aanvaar wat aanvalswapens verbied.

Die skietery is een van die dodelikste in die VSA sedert 2017, toe ’n gewapende man tydens ’n stampvol musiekfees in Las Vegas losgebrand en 60 mense doodgeskiet het.

Daar is vanjaar al meer as 500 massaskietvoorvalle in die VSA aangeteken, volgens die Gun Violence Archive, ʼn nie-regeringsorganisasie wat ʼn massaskietery definieer as vier of meer mense wat gewond of dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.