Skietongeluk eis lewe van twee broers

Argieffoto van ‘n swart beer (Foto: Departement van natuurlike hulpbronne, Michigan)

ʼn Man van Oregon in die VSA het sy eie lewe geneem nadat hy per ongeluk sy broer doodgeskiet het toe hy besig was om ʼn geweer te laai om op ʼn beer op hul eiendom te skiet.

BBC berig die man het die polisie gebel om die tragedie aan te meld en daarna die geweer op homself gedraai en hom geskiet. By die polisie se aankoms op die toneel het hulle die lewelose liggame van die twee broers aangetref. Albei het ’n enkele skietwond gehad.

Die voorval het Dinsdagoggend in die gemeenskap van Sunny Valley in Josephine County, net noord van die grens met Kalifornië, plaasgevind.

Nie een van die mans is geïdentifiseer nie.

Volgens die polisie het die man in die oproep gesê hy het sy wapen gelaai met die doel om ʼn beer te skiet. Dit is toe dat hy sy broer per ongeluk raakgeskiet het.

Die polisie ondersoek tans die saak en hul bevinding sal na die staat se mediese ondersoeker se kantoor gestuur word.

Al hoe meer beserings en ook noodlottige beserings as gevolg van ongelukke met vuurwapens word in die VSA aangemeld. Volgens gegewens van die Educational Fund to Stop Gun Violence sterf byna 500 mense jaarliks in dié land in onopsetlike skietvoorvalle.

Byna 30 000 swartbere kom in Oregon voor en huiseienaars word versoek om konfrontasies met die bere te vermy.

The New York Post berig hoewel Oregon as “swartbeerland” bekend staan, is aanvalle volgens plaaslike natuurlewebeamptes steeds relatief “ongewoon”.

Volgens die departement van vissery en natuurlewe in Oregon sal bere in die meeste gevalle menslike kontak vermy. “Dit is egter nooit veilig om ’n beer te nader nie,” sê die departement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.