Skietstaking in Oekraïne sneuwel

Pres. Petro Porosjenko (middel). Foto: Facebook

Pres. Petro Porosjenko (middel). Foto: Facebook

Na die leier van die rebelle in Oekraïne Vrydag aangekondig het dat hy die skietstilstand in die land opsê, het hy Saterdag ’n offensief op die hawestad Marioepol aangekondig.

Kort hierna was daar ’n verwoede vuurpylaanval op die woonbuurte van die stad. Minstens 30 mense het omgekom, krag- en waterverbindings het in die slag gebly, en inwoners van die ooste van die stad word na die weste van die stad ontruim. Die Verenigde Nasies deel komberse en ander noodtoerusting uit.

Die rebelleleier, Aleksandr Zachartjsenko, het aanvanklik verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar, maar na hy verneem het hoeveel ongevalle daar was, het hy van deuntjie verander en die blaam op die leër van Oekraïne geplaas.

Ook die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OVSE) beskuldig by wyse van implikasie die rebelle, deur te berig dat die vuurpyle uit ‘n gebied gelanseer is wat deur die rebelle beset is. Die OVSE, waarvan Rusland ook ’n lid is, hou vandag ’n spoedvergadering om die vredesamesprekings weer op koers te kry. Die Europese Unie se ministers van buitelandse sake kom Donderdag in ’n buitengewone vergadering byeen om oor die situasie in Oekraïne te besin.

Pres. Barack Obama het reeds aangekondig dat sy land en sy bondgenote die sanksies teen Rusland gaan verskerp.

Ook pres. Petro Porosjenko van Oekraïne het gesê sy land het radioboodskappe onderskep wat bewys dat die rebelle agter die aanval sit.

Die hervatting van die rebellestryd is algemeen verwag na daar al hoe meer skendings voorgekom het, en veral hard geveg is oor beheer van die lughawe van Donetsk. Die lughawe is in puin gelê en kan nie meer gebruik word nie, maar is van strategiese belang omdat die skietstilstand onder meer bepaal het swaar artillerie moet tot 15 kilometer agter die skeidslyn beperk word. Vir die rebelle was dit uiters ongewens omdat dit sou beteken hierdie wapens moes in die woonbuurte van Donetsk ontplooi word. Die verwoeste lughawe bied ’n veel beter strategiese opsie.

Voorts is talle berigte ontvang na splinternuwe besendings Russiese wapens vir die rebelle, asook die aankoms van meer Russiese troepe. Rusland ontken steeds dat sy troepe formeel in Oekraïne ontplooi is, maar berigte uit Rusland self lui dat ouers van gesneuwelde soldate ontevrede is oor die sluier van geheimhouding wat getrek word oor hoe hul kinders omgekom het.

Na Zachartjsenko aangekondig het dat hy die skietstilstand opsê, het verskeie kenners oor Oekraïne nog aangedui dat hulle meen die aankondiging is ’n blufspul om meer konsessies in die onderhandelinge af te dwing. Ander het gemeen die rebelle kon nie werklik bekostig om langer te wag nie, omdat die opleiding van sowat 50 000 bykomende troepe deur Oekraïne byna afgehandel is, wat die skaal swaar in Oekraïne se guns sou beklink. Die rebelle moes dus die afhandeling van die opleiding voorspring.

Bronne: Trouw, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.