Skietstilstand in Gasa – gaan dit hou?

Vuurpyle word uit Gaza op woongebiede en burgerlike teikens in Israel afgevuur Foto: www.cesi-italia.org

Vuurpyle word uit Gasa op woongebiede en burgerlike teikens in Israel afgevuur Foto: www.cesi-italia.org

‘n Humanitêre skietstilstand van 72 uur tussen Israel en Hamas is gesluit wat Vrydagoggend in werking getree het.

Die ooreenkoms is ironies gesluit nadat John Kerry, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, dae lank in die streek ‘n skietstilstand probeer bewerkstellig het, onverrigter sake vir ‘n volgende afspraak na Indië vertrek het.

Die Verenigde Nasies het die aankondiging van die skietstilstand gedoen. Dit is deur bemiddeling van Egipte bereik, wat deurlopend vredesamesprekings probeer bewerkstellig. Die hoop word uitgespreek dat hierdie 72 uur gebruik sal word om ‘n nog langer skietstilstand te bewerkstellig, en ‘n duursame vrede op te lewer.

Skietstilstande het tot dusver geblyk baie broos te wees omdat Hamas, en soms ander splintergroepe, dit verbreek het deur opnuut vuurpyle op Israel af te vuur.

‘n Interessante aspek is dat die ooreenkoms oor die skietstilstand nie net tussen Israel en Hamas beding is nie, maar dat “alle” Palestynse groepe betrek is, onder meer Al Fatah van pres. Mahmoud Abbas. Hamas se afvaardiging sal ook net ‘n deel van die Palestynse afvaardiging uitmaak wat vir vredesamesprekings na Egipte sal reis.

Die Israelse en Palestynse afvaardigings sal voorlopig nie regstreeks met mekaar in gesprek tree nie, maar Egipte sal as tussenganger optree. Die VSA beplan om ook ‘n klein afvaardiging na die samesprekings te stuur.

Op Israel se aandrang sal sy soldate ook nie nou aan Gasa onttrek nie, en sal waarskynlik, soos met vorige skietstilstande, voortgaan om tonnels op te spoor en te vernietig wat Hamas onderdeur die grens na Israel gegraaf het om terreuraanvalle op Israel te loods.

Die VSA het ondertussen goedkeuring verleen om wapentuig soos mortiere vir Israel wat opgebruik raak, aan te vul. Israel se lugverdeginigstelsel, die Iron Dome, sal ook weer aangesuiwer word.

Sowat 1 400 Palestyne het reeds in die konflik omgekom, terwyl sowat 60 Israeli’s gesterf het.
Bronne: Christian Science Monitor, Trouw, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.