Skietvoorval by sinagoge in Kalifornië

Polisielede buite ‘n huis wat moontlik dié van John Earnest, die beweerde skieter, is. (John Gibbins/The San Diego Union-Tribune via AP)

Een persoon is dood en drie ander beseer nadat ’n man Saterdag op ’n sinagoge in Poway, noord van San Diego, in Kalifornië in Amerika losgebrand het.

Die verdagte, intussen as die 19-jarige John Earnest geïdentifiseer, het op die laaste dag van die Joodse Paasfees omstreeks 11:30 (plaaslike tyd) gedurende ʼn Paasdiens by die sinagoge ingestorm waarna hy begin skiet het.

Volgens The Washington Post het ʼn vrou in die voorval gesterf. Nog ʼn vrou en twee mans is in die aanval beseer, waaronder ‘n rabbi.

Die BBC berig dat Earnest kort na die voorval in Poway in hegtenis geneem is.

Die polisie het nie ’n motief vir die voorval aangedui nie, maar die Amerikaanse president, Donald Trump, het die aanval as ’n “haatmisdaad” bestempel.

Dié skietery kom maar ses maande nadat ’n soortgelyke aanval die lewens van 11 mense by die Tree of Life-sinagoge in Pittsburgh geëis het.

Volgens die BBC het Bill Gore, San Diego County‑sheriff, gesê dat ondersoekbeamptes tans die verdagte se aktiwiteite op sosiale media bestudeer asook ’n ope brief wat aanlyn gepubliseer is.

Volgens owerhede word Earnest ook ondersoek in verband met ʼn brand wat verlede maand by ʼn moskee uitgebreek het.

Roubeklaers het Saterdagaand ’n waak vir die slagoffers van die skietvoorval by die Rancho Bernardo Community Presbyterian Church in San Diego gehou.

Trump het sy innige meegevoel aan alle betrokkenes uitgespreek, het The Washington Post berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Annie Webb ·

Nee wat, die wêreld is grotendeels heeltemal normaal. Dis hoekom voorvalle van geweld altyd nuus is. In die Westerse wêreld in elk geval.

Charlie ·

Nee Jesus is oppad! Ek dink nou meer as ooit verander van ons gebede, nie net vir vrede in ‘n wrede wêreld nie, maar vir die koms van ons Verlosser en Skepper om ons te kom haal en te verlos van die bose.

Bekommerd ·

Ek stem saam. Die mense op hierdie wêreld is besig om die plot te verloor. Net wat die New World Order wil hê. Hoop Jesus kom binnekort.

Jacoba ·

Wat bedoel jy nou? Wie geskiet was , was in ‘n Joodse Sinagoge met Paasfees. Die skieter klink nie na ‘n Moslem nie maar na ‘n persoon wat vol haat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.