Skikking spaar prins Andrew vernedering

Prins Andrew (Foto: John Thys / AFP)

Koningin Elizabeth II se tweede seun, prins Andrew, word die vernedering van ’n verhoor gespaar nadat hy en Virginia Giuffre, die vrou wat hom daarvan beskuldig dat hy teen haar sin met haar seks gehad het toe sy minderjarig was, vir ’n onbekende bedrag geskik het.

Die 61-jarige Britse koninklike en Giuffre het buite die hof geskik in die siviele regsgeding vir seksuele aanranding teen hom. Die finansiële besonderhede rondom die skikking is nie bekend gemaak nie.

Giuffre se prokureur, David Boies, het wel in ’n brief aan ʼn New Yorkse regter gesê Andrew sal as deel van die ooreenkoms ʼn “aansienlike skenking” aan ʼn liefdadigheidsorganisasie maak wat deur Giuffre gestig is. Dié organisasie ondersteun slagoffers van sekshandel.

Giuffre voer aan Andrew het haar 20 jaar gelede seksueel mishandel by die sosiale vlinder Ghislaine Maxwell se huis in Londen, by die Amerikaanse finansier Jeffrey Epstein se huis in New York en op Little St. James, Epstein se private eiland in die Amerikaanse Maagde-eilande.

Epstein is in 2019 dood aangetref in sy sel in die Metropolitan-gevangenis in New York. Hy het tereg gestaan op mensehandel van minderjariges.

Die skikking beteken die siviele saak teen Andrew sal nie tot ʼn jurieverhoor oorgaan nie. Die koninklike sal ook nie meer onder eed deur Giuffre se prokureurs ondervra word nie.

‘n Foto van prins Andrew en Virginia Giuffre in die 90’s. Ghislaine Maxwell kan in die agtergrond gesien word. (Foto: Verskaf deur AFP)

Daar word geen melding van Giuffre se beskuldigings teenoor Andrew in die brief gemaak nie. Daar word ook geen skulderkenning namens Andrew in die brief gemaak óf verwys na die herhaalde ontkennings wat hy gemaak het nie.

Luidens die brief het Andrew wel berou “oor sy verbintenis met Epstein”. Hy prys ook Giuffre en ander slagoffers van seksuele aanranding se dapperheid “om vir hulself en ander op te staan”.

“Prins Andrew was nog nooit van plan om Giuffre se karakter te belaster nie, en hy aanvaar dat sy gely het as ʼn gevestigde slagoffer van mishandeling en as gevolg van onbillike openbare aanvalle.

“Hy onderneem om sy spyt oor sy verbintenis met Epstein te toon deur die stryd teen die euwels van sekshandel te ondersteun en die slagoffers daarvan te ondersteun.”

Die prins is verlede maand van sy militêre ererolle en koninklike beskermheerskap onthef nadat die hof aanvanklik bekend gemaak het dat die regsgeding vir seksuele aanranding teen hom sou voortgaan.

Bennett Gershman, ’n voormalige aanklaer en nou professor in regte, sê die skikking is “baie goeie nuus” vir Andrew aangesien hy nie meer hoef te getuig en enige onbehoorlike gedrag teenoor Giuffre te erken nie.

“Sy verligting moet tasbaar wees,” het Gershman aan AFP gesê.

Die prokureur Lisa Bloom, wat agt van Epstein se slagoffers verteenwoordig, het die skikking as ‘n “oorwinning” vir Giuffre bestempel.

“Sy het bereik wat niemand anders kon nie: om prins Andrew te kry om sy nonsens te stop en hom by slagoffers van seksuele misbruik te skaar,” het Bloom getwiet.

Die prins is nooit krimineel aangekla nie en het deurgaans die bewerings ontken.

’n Woordvoerder van Andrew het gesê hy sal nie verder enige kommentaar lewer nie. Die paleis het ook nie ʼn verklaring oor die gebeure uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

casper ·

Die storie was altyd om geld van hom te bekom en niks anders nie !!!

philippus ·

stem saam…. die polisie en aanklaers in 2 lande het gevind dat daar nie n saak is om op te antwoord nie…. hierdie was n siviele saak en dit het gegaan oor geld en publisiteit…

Wondermaarnet ·

As sy net geld wou hê kon sy aangaan met die hofsaak en nog meer eis.

Mariaan ·

O nee! Hy was skuldig…anders sou hy mos nie betaal nie…as dit SO maklik was kan enige iemand gereeld dit “opdis”….

Marius ·

“Geld wat stom is, maak reg wat krom is”. Nog ‘n bewys van “bo blink, en onder stink”. Moet nooit dink jy is beter as ander of verhewe bo ander nie. Almal van ons, sonder enige uitsondering, is mense met foute.

philippus ·

jy vind hom skuldig op grond van wat…omdat hy bevoor reg is beroemd is, geld het…. sake soos die wys altyd mense se eie insecurities en suurheid

wendy ·

Darem lekker as jy geld het hy wat andrew is behoort hom te skaam hy is n seun pa oupa sulke skande hy was maar nog altyd n rok jagter geen tyd vir hom nie

FM ·

Aarde!!!!!!!!!

Hy het lankal skande.
Die adelstand het ôk vrot appels.

Kobus ·

Loslappies het die hef in die hand. Sy het sekerlik saamgespeel want om ‘n Prins op jou lysie te he is voorwaar ‘n prestasie. Nou skielik kla sy. Ai,ai,ai.

Swerwer ·

Dui maar net daarop dat beide partye skuldig is. Die Geldgod is maar net weer in beheer en Mammon lag lekker.

MakersMark ·

Geld wat krom is………Guiffre se waardes net so swak soos die prins s’n. Geen skulderkentenis deur haar geeis. Prins betaal en die probleem “wat haar soveel emosionele skade” berokken het verdwyn skielik. Albei ewe skuldig.

VaalDonkie ·

Dink jy nie daar was druk op haar geplaas om dit te aanvaar nie?

MakersMark ·

Ek weet nie. Genoeg geld vir ‘n “alledged” misgandeling dekades terug js seker genoeg “druk”?

VaalDonkie ·

Nee ek weet ook nie. Stel ook nie rerig belang nie. Solank hulle net die kindertjies uitlos.

Delia ·

Lisa Bloom…wat het Virginia reggekry, behalwe om.klomp geld te kry. Hoe het sy dit reggekry om hom sy nonsens te laat stop. En hoe gaan hy hom skaar by slagoffers? Hy het geen mag nerens Meer nie.
MAAR JA, jou fooie is ook seker lekker groot.

En al die Ander waarvan Virginia ook weet? Hulle Kom skotvry om aan te gaan met hulle bedrywighede.

annie ·

… en nou is hy weer eie verhewe prins. As hy onskuldig is kan hy dit mos maklik bewys. Sy verwaande houding na sy afkopery is skaamteloos verby. Aaklike ou man.

Niklaas ·

Sy is glad nie so onskuldig , getraumatiseer en verniel soos wat beweer word nie. Dalks was sy meer ervare as die meeste 30 jarige vrouens. Sy (en haar regs adviseers) wou fortuine skep met hierdie saak.

Lillian ·

Ek is nie juis ‘n ondersteuner van Prins Andrew nie, maar my vraag is net, hoekom het sy 3 keer toegelaat dat hy haar dan sodanig “misbruik”.
Die eerste keer moes sy hom al verkla het, maar toe is daar nog 2 insidente. Dit maak nie sin nie.
Klink eerder of sy hom wou melk vir ‘n hoop geld.

Mariaan ·

Hy moes v beter geweet het…siesa! Jy is dan n “prins”….maar gedra jou soos n honger wolf…nee man! Skuldig…anders kon hy mos met al sy geld die saak beveg…

Herman ·

As ek die foto so kyk, lyk almal baie gelukig. Noggal 3 maal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.