Skildery van Winston Churchill opgeveil

Sir Winston Churchill se skildery genaamd “The Tower of the Koutoubia Mosque”. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Die Hollywood-aktrise Angelina Jolie het ’n skildery deur die voormalige Britse premier sir Winston Churchill op ’n veiling in Londen vir £7 miljoen (sowat R145 miljoen) verkoop.

Dit is aanvanklik vermoed dat die skildery tussen £1,5 miljoen (sowat R31 miljoen) en £2,5 miljoen (sowat R52 miljoen) sou haal.

Die olieverfskildery genaamd “The Tower of the Koutoubia Mosque” is deur Churchill tydens ʼn besoek aan Marokko tydens die Tweede Wêreldoorlog geskilder en is op die veilinghuis Christie’s se katalogus as die voormalige premier “se belangrikste werk” bestempel.

Dit is glo die enigste landskap wat Churchill tydens die oorlog geskilder het. Hy het die skildery destyds as geskenk aan die Amerikaanse president Franklin Roosevelt gegee.

“Dit is Churchill se diplomatieke karakter op sy mees persoonlike en intense manier,” het Christie’s se hoof van moderne Britse en Ierse kuns, Nick Orchard, gesê. “Dit is nie ’n gewone geskenk tussen leiers nie. Dit is sagte krag, en dit is waaroor die spesiale verhouding gaan.”

Die Roosevelt-familie het die skildery in die 1950’s verkoop. Die skildery het daarna ’n paar keer van eienaar verwissel voordat dit by die Hollywood-egpaar Brad Pitt en Angelina Jolie beland het. Die egpaar is in 2019 geskei.

Churchill, premier én kunstenaar

Churchill het eers in die ouderdom van 40 begin skilder.

Sy passie vir die lig van die Marokkaanse stad Marrakesj dateer uit die 1930’s toe die grootste deel van Marokko ’n Franse protektoraat was. Churchill het deur die loop van 23 jaar ses besoeke aan Marokko afgelê.

Die premier sou glo sy esel op die balkonne van die La Mamounia-hotel of Villa Taylor staanmaak en skilder.

Dit was by dié villa, ná ’n historiese konferensie in Januarie 1943 in Casablanca met Roosevelt en die Franse president Charles de Gaulle, waar hy die minaret agter die skanse van die Ou Stad geskilder het, met berge agter en piepklein kleurvolle figure voor. Dié skildery word ook geag as een van sy beste werke.

‘n Tweede Churchill-landskap genaamd “Scene in Marrakesh” wat hy tydens sy eerste besoek aan Marokko in 1935 geskilder het, is ook Maandag by Christie’s opgeveil.

Die premier het tydens dié besoek by die hotel La Mamounia oorgebly. In ’n brief aan sy vrou, Clementine, was hy in vervoering oor die “opmerklike panorama bokant die toppe van lemoenbome en olywe”.

Die hotel het vandag ’n suite en ’n kroeg wat vernoem is na sy roemryke gas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanncb ·

Die waarde van die Suid-Afrikaanse rand is verskriklik swak vergeleke met die Britse pond!
Sir Winston Churchill was ‘n veelsydige Staatsman!

annie ·

Dalk het Hitler gehoor van Churchill se skilderkuns en besluit om Engeland by te kom. Redes vir oorloè is maar duistere dinge. Hitler wou van jongsaf ‘n kunstenaar word maar is 2x weggewys by die Duitse kunsakademie. Hy het self ‘n paar ‘kosbare’ werkies gelewer maar sou nie later daarvoor bekendheid verwerf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.