Skilpad bring verkeer tot stilstand

Die skilpad het glo op die spoor vasgesit nadat dit van ʼn plaaslike wildsentrum ontsnap het. (Foto: Diane Akers/Twitter)

ʼn Reuseskilpad het Maandag pendelaars in Engeland se daaglikse rit werk toe ontwrig toe die dier se verskyning op ʼn treinspoor bedrywighede tot ʼn stilstand gedwing het.

Greater Anglia-spoormaatskappy het op sosiale media gesê dat die treine tussen Norwich en Stansted-lughawe vir langer as ʼn uur stilgestaan het weens ʼn “reuseskilpad”.

Maandagmiddag het die treindiensverskaffer aangekondig dat die spoor deur ʼn dier versper word.

Diane Akers, ʼn passasier wat die dag op ʼn trein na Norwich was, het haar tot sosiale media gewend om ʼn foto van die skilpad op die spoor te deel.

“Dit is lewend maar beseer,” het Akers aan die maatskappy gemeld.

Die skilpad se dop het skynbaar ʼn groot sny daarop gehad.

“Om eerlik te wees, kon ek nie my oë glo nie,” het sy geskryf.

ʼn Kliënteraadgewer by die spoorwegmaatskappy het later bekommerde passasiers gerusgestel dat die beseerde skilpad na ʼn spesialis geneem is vir behandeling.

“Ons is in kennis gestel dat die skilpad ten volle sal genees.”

Lydia Jane White, ook ʼn passasier, het op sosiale media aangevoer dat die skilpad aanvanklik te swaar was om per hand op te tel. Die skilpad het glo op die spoor vasgesit nadat dit van ʼn plaaslike wildsentrum ontsnap het.

“Dit is woorde wat ek nooit gedink het ek van ʼn treindiensverskaffer sou hoor nie.”

Die spoorlyn het eindelik sowat anderhalf uur later weer geopen ná talle vertragings weens die sluiting.

Die eienaardige vertraging volg ná ʼn onlangse staking deur spoorwerkers wat salarisverhogings eis wat die huidige inflasiekoers weerspieël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

Pragtige verhaal. Was dit hier by ons sou niks gebeur het nie want daar loop nie meer treine nie.

Miena ·

Awwww hoe oulik is dit nou nie… Ek neem aan ou skillie doen alreeds baie baie beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.