Skok, afgryse oor 64 wat sterf in brand by winkelsentrum

ʼn Foto van die toneel by Kemerovo in die suide van Rusland (Foto: Xinhua/Sputnik)

Russiese polisieowerhede van Kemerovo in die suide van dié land het vandeesweek gesê verskeie veiligheidsoortredings het moontlik daartoe gelei dat 64 persone Sondag dood is toe ʼn brand in ʼn winkelsentrum in dié stad uitgebreek het.

Volgens The Telegraph het ondersoekbeamptes, wat ʼn strafregtelike ondersoek na die voorval van stapel gestuur het, vasgestel dat die brandalarm oomblikke nadat die brand uitgebreek het deur ʼn veiligheidsbeampte afgesit is. Verskeie nooduitgange was glo ook onwettig versper en daar was glo geen veiligheidsmaatreëls vir só ʼn noodsituasie in plek nie. Die personeel het glo ook nie die gebou ontruim nadat die brand uitgebreek het nie.

Meer as 300 brandbestryders en 300 ander nooddienspersoneel was Sondag op die toneel van dié winkelsentrum in die stad, sowat 3 000 km van Moskou, en het langer as 17 ure gespook om die brand te probeer blus.

Die brand is deur Vladimir Putchkov, die land se minister vir noodtoestande, as die noodlottigste in die afgelope tien jaar bestempel. Volgens hom is ʼn groot aantal van die sterftes glo in twee fliekteaters aangeteken. Putchkov sê die teaters was gesluit weens mense wat onwettig daartoe toegang verkry terwyl flieks in die teater vertoon is.

Die Russiese nuuswebwerf Meduza het onder meer met die ouers van drie dogters gepraat wat in dié brand dood is. Olga Lillyevyali, die ma van die drie dogters, het aan die nuuswebwerf gesê sy het oproepe van haar dogters ontvang oomblikke voordat hulle in die fliekteater in die winkelsentrum dood is. Hulle is enkele ure voor die voorval deur hul pa by die winkelsentrum afgelaai om ʼn fliek te gaan kyk. “Ons kinders het doodgebrand terwyl ons net staan en kyk het. Ons is gevul met skok en afgryse,” het sy gesê.

ʼn Foto van die toneel by Kemerovo in die suide van Rusland (Foto: Xinhua/Sputnik)

Alexander Lillyevyali, die dogters se pa, het aan die nuuswebwerf vertel sy dogters was angsbevange omdat die deure van die fliekteaters gesluit was en dat daar geen manier was om van die vlamme te probeer ontsnap nie. Lillyevyali het glo sy dogters te hulp gesnel, maar kon nie tot by die fliekteater kom nie as gevolg van die rook. “Ek het so baie rook ingeasem dat ek op die randjie van flou word was. My dogter het my bly bel en bel. Ek kon net skree dat sy uit die teater moes probeer ontsnap, maar daar was niks wat ek kon doen nie – die vlamme was reg voor my.”

Onder die ander slagoffers is ook ʼn 11-jarige seun wat in die waakeenheid behandel word nadat hy uit die venster van die vierde verdieping na veiligheid probeer spring het. Sy ouers en jonger suster is dood.

Beeldmateriaal wat deur die Russiese nasionale uitsaaier uitgesaai is, het getoon hoe mense desperaat deure probeer afbreek in ʼn poging om van die vlamme te ontsnap. Tatyana Darsaliya, ʼn 36-jarige plaaslike onderwyser, het glo haar eie dogter na veiligheid geneem en na die gebou teruggegaan om ander kinders te probeer red voordat sy ook in die brand dood is.

200 diere van ʼn dieretuin binne die sentrum, waaronder hase, skilpaaie, varke en bokke, het ook doodgebrand.

ʼn Foto van die toneel by Kemerovo in die suide van Rusland (Foto: Xinhua/Sputnik)

Vladimir Chernov, die goewerneur, kon nog nie berigte bevestig dat die vuur begin is toe ʼn jong kind glo met ʼn aansteker gespeel het en per ongeluk stukke skuimrubber by die springmat-speelplek in die sentrum aan die brand gesteek het nie.

Alexei Navalny, die leier van die opposisieparty in die land, het die veiligheidsoortredings aan korrupsie toegeskryf en gesê te veel beamptes sluit hul oë vir sulke oortredings deur omkoopgeld te ontvang.

Intussen word foto’s op sosiale media versprei van honderde inwoners van die stad wat in lang toue buite plaaslike hospitale staan om bloed aan beseerdes te skenk. Dit is nog nie bekend hoeveel mense in totaal beseer is nie.

Vier mense is Maandag in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die mense is onder meer die hoof van die maatskappy wat verantwoordelik is om die sentrum se brandalarm te diens en gereeld te toets, en die direkteur van die maatskappy wat die winkelsentrum besit.

ʼn Ondersoek na die voorval duur steeds voort.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.