Skok ná kampioen-atleet skielik sterf

Nicholas Bett vier sy oorwinning nadat hy met goud weggestap het in die 400m-hekkies by die Wêreldatletiekkampioenskap in Beijing (25 Augustus 2015). Foto: Lee Jin-man/AP

Nicholas Bett, ʼn Keniaanse atleet wat in 2015 goud by die Wêreldkampioenskap in die 400 m-hekkies verower het, is vroeg Woensdagoggend in ʼn motorongeluk dood.

Die ongeluk het in Kenia se bekende hoë-hoogte-oefenstreek gebeur. Bett het pas teruggekeer van ʼn week in Nigerië waar hy aan die Afrika-kampioenskappe deelgeneem het. Hy was 28 jaar oud.

Patrick Wambani, polisiebevelvoerder van die Nandi-distrik, het gesê die ongeluk het tussen Eldoret en Kapsabet gebeur, twee van Kenia se bekendste langafstand-hardloopdorpe in die Rift Vallei-streek. Volgens Wambani was Bett alleen in sy voertuig toe die ongeluk gebeur het.

Bett se sportnutsvoertuig het ʼn bult in die pad getref, gerol en op sy dak in ʼn sloot te lande gekom. Vincent Mumo, Bett se afrigter, het gesê die ongeluk het omstreeks 06:00 gebeur. “Ek het nie woorde nie. Ons dank God vir sy lewe,” het Mumo gesê.

Hy het gesê Bett se tweelingbroer, Aron Koech, ook ʼn atleet, is ontroosbaar.

Bett was die pa van tweejarige tweelingseuns.

Bett se goud in die 400 m-hekkies in die 2015 Wêreldkampioenskap in Beijing was ʼn deurbraakoorwinning vir Kenia wat gewoonlik net in die middel- en langafstande uitgeblink het. Bett was die eerste Keniaan om ʼn belangrike titel by die kampioenskap te wen. Dit is gesien as ʼn aanduiding dat Kenia nou ook op die korter afstande as ʼn gerekende speler geag moet word.

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het gesê hy is hartseer en geskok om van Bett se dood te verneem. Atletiek Kenia het ook hul medelye aan Bett se familie gestuur en gesê die organisasie sal help met begrafnisreëlings.

“Ons rou oor hierdie groot verlies,” het Jackson Tuwei, president van Atletiek Kenia, gesê. “Hy het baie vir hierdie land gedoen. Hy was nog ʼn jong man en ons sal hom baie mis.”

Uhuru Kenyatta, Kenia se president, het op sy amptelike Twitter-profiel hulde aan Bett gebring. Talle ander mense het ook op sosiale media hul skok en simpatie uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandy ·

Dis nou baie tragies. My innige simpatie aan sy familie wat agterbly, en sy seuns. Hy het so hard gewerk om iets van homself te maak, en nou is dit daarmee heen.

Richard ·

Afrikaans vir “Rift Valley” is “skeurvallei” of andersins “slenkdal”.

Mvn ·

Maar dan moes dit Kloof Vallei wees as mens direk moet vertaal, mens kan ook redineer dat n naam onveranderd bly in n vertaling.

Richard ·

Nee, ‘n kloof is nie ‘n “rift” nie. En as dit onvertaald moet bly, dan moet dit “Rift Valley-streek” wees, nie “Vallei” nie. Definitief nie een helfte van die naam los en die ander helfte vertaal nie. Dit sou omtrent wees asof mens van “Nuwe York City” praat, of “East Londen”.

CK ·

Dit is werklik ‘n tragedie, Afrika is ‘n goeie atleet minder. Sterkte aan sy familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.