Skok oor 14-jarige se mesaanval by skool in Spanje

Argieffoto (Foto: Niek Verlaan/Pixabay)

ʼn 14-jarige seun het Donderdag drie onderwysers en twee leerders by ʼn skool in Spanje aangeval. Dit het groot opslae gemaak in ʼn land waar gewelddadige misdaad baie seldsaam is.

Die seun, wie se naam weerhou word, het hulle glo herhaaldelik met ʼn mes aangeval kort ná klasse by die skool in Jerez de la Frontera in die suidelike Andalusiëstreek begin het, het polisiewoordvoerder Adrian Dominguez aan verslaggewers by die toneel gesê.

“Die polisie het die verdagte op die derde verdieping gevind. Hy het twee messe in sy besit gehad wat gebruik is om drie onderwysers en twee skoliere aan te val,” het Dominguez gesê en bygevoeg die verdagte is na ʼn polisiestasie geneem.

Vier van die beseerde persone is in die hospitaal behandel, insluitend ʼn onderwyseres wat ʼn operasie aan haar oog benodig nadat sy deur die seun gesteek is, het Patricia del Pozo, streeksminister van onderwys, aan verslaggewers gesê.

Verskeie leerders het aan media in Spanje gesê die seun het eers lede van sy klas en die onderwyseres wat die oogoperasie benodig aangeval voor hy na ʼn ander klas gehardloop en sy aanval voortgesit het.

Een leerder, wie se naam nie bekendgemaak is nie, het aan privaat televisiestasie La Sexta gesê die aanvaller het na die agterkant van die klas gehardloop, “sy rugsak op die grond laat val en die messe uitgehaal voor hy geskree het ‘ek gaan julle doodmaak!’”.

“Hy het gehardloop, mense gejaag en almal het na die speelgrond beweeg,” het hy bygevoeg.

Nog ʼn onbekende leerder het aan Canal Sur-televisie gesê die seun “het ʼn uitdrukking op sy gesig gehad asof hy almal wou steek”.

Ouers het na die skool toe gejaag en buite die hekke saamgedrom wat deur die polisie afgesper is.

Leerders is uit die skool ontruim en is huis toe gestuur.

“Dit was baie dramaties en hartseer, want die ouers buite die skool wou net hul kinders omhels,” het Maria Jose Garcia-Pelayo, burgemeester van Jerez de la Frontera, aan verslaggewers gesê en bygevoeg onderwysers kon die verdagte ontwapen.

“Hulle het vinnig reageer om die kinders te beskerm. Wat gebeur het is baie ernstig, en ons sal hieroor moet besin.”

Juan Manuel Morenao, hoof van Andalusië se streeksregering, het gesê dit is nog nie duidelik wat tot die aanval aanleiding gegee het nie, maar hy vermoed “uiterste geweld” op televisie en elders.

“Ons moet almal nadink oor die rol wat geweld op televisie, in flieks, in speletjies speel. Die geweld wat ons gereeld op sosiale media sien is sinneloos, soms uiterste geweld.”

Die hoof van die Spaans biskoppekonferensie, aartsbiskop Francisco Cesar Garcia Mogan, het “dringende besinning” versoek met ʼn fokus op geestelike gesondheid in onderwys.

Spanje het ʼn lae misdaadkoers – veral wat gewelddadige misdaad betref – in vergelyking met ander Europese lande. Buitens 2020, waar voorvalle van misdaad veral seldsaam was weens die grendeltydperk tydens die pandemie, was 2021 se misdaadkoers van 41,4 voorvalle per 1 000 mense die laagste in onlangse geskiedenis, aldus die regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

Morenao is reg oor die rol wat die uitbeelding van wrede en gewelddadige tonele in flieks ens speel, maar teenkanting val al vir jare lank op dowe ore.

Keelvol ·

Die geweld in films en op TV kan nie blameer word nie. Daar is ouderdom beperkings op films vir n rede. Maar OUERS laat mos net toe en beheer nie wat hulle kinders kyk nie.

Ouers moet ook blameer word vir hulle kinders se gedrag. Want die kinders kan mos niks verkeerd doen nie.

Marius ·

Gaan messe nou verband word, of gaan wetgewing ingestel word op die gebruik van messe en koop daarvan, of gaan jy ook n bevoegdheid sertifikaat moet kry en dan n lisensie…. Vra maar net, nie sarkasties nie. Dit is n tragedie… N lewelose ding kry die skuld vir n oortreding wat deur die mens gedoen is… Maak nie sin nie….

Marina ·

Ek was so n paar jaar gelede in Barcelona. Die hoeveelheid Afrika immigrante was toe reeds verstommend! Heelwat immigrante van Arabiese afkoms ook. Ek sal nie verbaas wees as die aanvaller uit ern van hierdie groepe kom nie? Dit bly egter bitter hartseer en onnodig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.