Skok oor jong Disney-ster se skielike dood

Cameron Boyce in April vanjaar by ‘n geleentheid in Inglewood, Kalifornië. (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Verskeie bekendes het met skok gereageer oor die dood van die 20-jarige Cameron Boyce, die Disney Channel-akteur wat veral bekend was vir sy rol in die Descendants-televisierolprente.

Boyce is Saterdag dood nadat hy ʼn soort epileptiese aanval in sy slaap gehad het. ʼn Woordvoerder het gesê die toeval was weens “’n voortgesette mediese toestand” waarmee Boyce gediagnoseer is. Meer besonderhede oor dié toestand is nie bekendgemaak nie.

“Die wêreld het nou ongetwyfeld een van sy helderste ligte verloor, maar sy gees sal voortleef in die goedheid en deernis van almal wat hom geken en liefgehad het,” het Boyce se familie in ʼn verklaring gesê. “Ons is uiters hartgebroke en vra vir privaatheid tydens hierdie ongelooflike moeilike tyd terwyl ons rou oor die verlies van ons kosbare seun en broer.”

Boyce het sy akteursloopbaan begin op die ouderdom van nege in die 2008 gruwelprent Mirrors. Twee jaar later het hy die rol van die seun van ʼn man en vrou, vertolk deur Adam Sandler en Salma Hayek, gespeel in Grown Ups en Grown Ups 2 voordat hy vier jaar lank in die Disney Channel-reeks Jessie gespeel het.

Hy het ook in verskeie ander Disney-programme verskyn, soos Good Luck Charlie, Austin & Ally en Liv and Maddie.

Sy aanhangers sal hom egter onthou vir sy rol as Carlos, Cruella De Vil se seun, in die Descendants-trilogie.

Cameron Boyce (middel), praat in April vanjaar by WE Day California in Inglewood, Kalifornië. Aan sy linkerkant is Macy Lillard en regs is Jazzy Satten. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

“Cameron Boyce het van ʼn jong ouderdom daarvan gedroom om sy buitengewone artistieke talente met die wêreld te deel,” het Disney Channel in ʼn verklaring gesê. “Hy was ʼn ongelooflike talentvolle akteur, ʼn opregte, bedagsame omgee-mens en, bo alles, ʼn liefdevolle en toegewyde seun, broer, kleinseun en vriend. Ons opregte medelye gaan aan sy familie, sy akteursvriende en kollegas en die miljoene aanhangers wat rou oor sy ontydige dood. Hy sal baie gemis word.”

Kenny Ortega, regisseur van Descendants het op Facebook geskryf Boyce se talent was “onmeetbaar” en het die jong ster geloof vir sy goedheid en vrygewigheid. Skai Jackson, wat saam met Boyce in Jessie gespeel het, het geskryf haar hart sal vir ewig gebreek wees. “Dankie dat jy die ouboet was wat ek nooit gehad het nie,” het sy geskryf.

Intussen het Sandler ʼn foto van Boyce gedeel met die boodskap: “Te jonk. Te gaaf. Te snaaks. Net die oulikste, mees talentvolle en ordentlikste kind wat daar was. Was so lief vir daardie kind. [Hy het] so baie omgegee oor sy familie. So baie omgegee oor die wêreld,” het Sandler geskryf. “Ons harte is gebreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Askies, ja daar is baie stories van mense wat dwelms gebruik en goed. Maar dit is nie die geval hierso nie – hy het ‘n epiliptiese aanval gehad in sy slaap. In sulke tyd van rou moet u asseblief onaangename kommentaar vir jouself hou. Lekker dag verder. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.