Skoksyfers oor kinderhuwelike in SA

egskeiding-SA-huweliksweek

Argieffoto.

Meer as 91 000 meisies in Suid-Afrika tussen 12 en 17 jaar is getroud, geskei of weduwees.

Die meerderheid van die groep woon ongetroud saam met ʼn maat as man en vrou. Dit is van die skokstatistieke wat in Statistieke Suid-Afrika se gemeenskapsopname vervat is.

Die verslag toon dat die meeste gevalle in KwaZulu-Natal voorkom met 25 205 meisies wat geraak word. Gauteng is volgende met 15 929 meisies.

“Hierdie skokkende statistieke skets ʼn benarde prentjie vir die emansipasie van jong vroue en kinders van Afrika,” het prof. Deirdre Byrne, voorsitter van die Unisa-Africa Girl Development Programme (Unisa-AGDP), in ʼn verklaring gesê.

Die Unisa-AGDP is op die been gebring om jong vroue se regte te bevorder en geslagsongelykheid na vore te bring.

Volgens Byrne het die 2015-Afrika-indeks aangetoon dat nege uit die 10 lande waar die meeste gevalle van kinderhuwelike voorkom in Afrika is.

“Hoewel die Suid-Afrikaanse statistieke laer is in vergelyking met die res van Afrika, is die feit dat kinderbruide ʼn werklikheid in Suid-Afrika, ʼn land met een van die wêreld se beste grondwette, is steeds skrikwekkend. Altesaam 125 miljoen van die 700 miljoen kinderbruide wêreldwyd is in Afrika.

“Unicef het in 2015 in ʼn studie bevind dat meer as een uit drie van dié Afrika-vroue en -meisies, meer as 40 miljoen, voor die ouderdom van 15 in die huwelik getree het. Indien die huidige tendens voortgaan, sal meer as die helfte van die wêreld se kinderbruide teen 2050 van Afrika afkomstig wees.”

Byrne het gesê kinderbruide is ʼn toksiese kombinasie van regressiewe geslagsnorme waar families dogters sien as bronne van inkomste, eerder as gekoesterde familielede.

“Patriargie wat versterk word deur kulturele oortuigings heg meer waarde aan die lewe van ʼn seun as ʼn dogter aangesien die seun die familienaam kan dra, voort kan gaan met die familiebesigheid en finansieel kan bydra. Jong vroue word in dié geval gesien as ʼn las op die hulpbronne en met die vaderfiguur wat al die besluite neem, lyk die meisie se vooruitsigte somber.

“Die ekonomiese ongelykheid wat ons samelewing beleef, lei verder daartoe dat arm families wat nie die hulpbronne het om na al hul kinders om te sien nie, hul minderjarige dogters verkoop aan losbandige mans. Hierdie sosiale ongelykhede, die aantal vroue wat sterf by geboorte en geweld teen vroue verswak ʼn gemeenskap en is nie slegs ʼn kwessie oor vroue nie, maar belemmer ook die ontwikkeling van Afrika. Wanneer vroue blootgestel word aan swak gesondheid, ongeletterdheid, ʼn gebrek aan beheer oor vrugbaarheid en indiensneming of basiese menseregte, betaal hul kinders ook die prys, wat ʼn afwaartse spiraal van stagnerende ekonomiese ontwikkeling en groei veroorsaak.

“Die enigste manier om die syfers rakende kinderbruide te laat daal, is deur opvoeding. Hierdie ysingwekkende statistieke bewys hoe noodsaaklik dit is dat jong meisies se opvoeding heel bo-aan die agenda is en die toepaslikheid van die AGDP-program.”

Volgens Byrne is dit uiters belangrik om jong meisies in die skool te hou om die siklus van armoede, misbruik en kinderhuwelike te verbreek.

“Om jonk te trou raak ʼn meisie se opvoeding en een-derde van die ontwikkelende lande het nog nie geslagsgelykheid in primêre onderrig bereik nie. Jong meisies van Afrika kry nie dieselfde gehalte onderrig of selfs dieselfde aantal ure van onderrig as seuns nie weens drie faktore. Die eerste is toegang tot sanitêre geriewe. Baie meisies mis vier tot vyf dae van skool per maand omdat hulle nie toegang het tot sanitêre geriewe tydens menstruasie nie.

“Dié feit op sigself dui op die armoede-indeks en die vervrouliking van armoede. Die tweede is tienerswangerskappe, wat gewoonlik daartoe lei dat die meisie haar onderrig staak. Die ander is die geslagsnorme wat dikteer dat dit minder belangrik is om ʼn meisie op te voed as ʼn seun omdat ‘sy in elk geval gaan trou’.

“Ongelykhede in onderrig beperk geleenthede vir meisies en vroue. Hul bemagtiging is noodsaaklik vir ekonomiese bevordering en sosiale ontwikkeling en hul bydraes sal ʼn beduidende invloed hê op nasionale groeisyfers.

“Ons kan doodeenvoudig nie ons rûe draai op die werklikheid van die verarmde lewe van soveel meisies en vroue van Afrika nie.”

Vir meer inligting oor die program, besoek die webwerf of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida2 ·

Dit is jammer en ontstellend.
Wat word van die mans wat in so verhouding is?
Dit is mos ‘n oortreding om met so jong meisie gemeenskap te hê. Kla hulle aan en sluit hulle op.
Weerhou kindertoelaag in so verband. Hoe meer kinders hoe hoër die gesinsinkomste. Ek kry vir my kind toelaag en sy kry ook vir haar kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.