Skokvideo uit Mosambiek glo ‘gedokter’

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Skokvideo uit Mosambiek wat wys hoe ʼn groep mans, geklee in weermaguniforms ʼn vrou aanrand en dan doodmaak, is volgens die Mosambiekse owerhede gedokter.

Mosambiek se minister van verdediging, Jaime Neto, het gesê die video is vals, het BBC Woensdag berig.

Neto het gesê diegene verantwoordelik daarvoor is geïdentifiseer en sal gestraf word.

In die twee minuut lange video wat sedert Maandag versprei word, kan gesien word hoe ʼn groep mans in uniform die vrou aanval. Een van die mans slaan haar verskeie kere met ʼn stok oor die kop en lyf voordat ʼn ander een haar dan skiet. In die video kan gehoor word hoe een in Portugees sê “maak haar langs die pad dood”.

Die video is na bewering in Mosambiek se Cabo Delgado-provinsie, in die noorde van die land, verfilm. Regeringsmagte is nou reeds maande lank in die gebied in ʼn stryd met militante Islamitiese groepe betrokke. Die rebellegroepe het die afgelope drie jaar reeds verkeie aanvalle op nedersettings en dorpe in die gebied uitgevoer. Na raming het meer as 1 500 mense reeds weens die konflik in die streek omgekom, terwyl duisende ander haweloos gelaat is.

Mosambiekse regeringsmagte word uit verskeie oorde van menseregtevergrype beskuldig in die poging om die rebelle in bedwang te bring.

BBC het berig Neto het aan ʼn plaaslike televisiekanaal gesê “kwaadwillige mense” het die video geredigeer om die weermag se beeld skade te berokken. Hy het nie verdere besonderhede verskaf nie, maar gesê diegene verantwoordelik vir die skep van die video sal voor die publiek geparadeer en gestraf word.

Neto het gesê regeringsmagte sal intussen voortgaan met bedrywighede om vrede in die gebied te bewerkstellig.

Amnestie Internasionaal het verlede week gesê hy het reeds verskeie video’s van pogings tot onthoofding, marteling en ander wandade teenoor gevangenes ontleed en geverifieer. Vermeende rebelle word glo ook tereggestel.

Die regering het die bewerings ontken en gesê die insurgente doen hulle gereeld as soldate voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Dit is nou eending wat julle nasie goed kan doen en dit is om als te ontken. Dit is die ANC en ZANU PF se maniere ook

Realis Thailand

Hoe doktor jy n video om n aanranding te wys. Ek dink daar gaan nog baie gevalle wees van videos van wreedheid aan beide kante

Stefaan

En volgende keer as ons jok verwag ons ook hulle moet ons glo.

George

Welkom IS. Dit is hulle manier. Ek was in Iraq en die geweld gesien. As Mosambiek nie vinnig optree nie gaan ons meer en meer sulke videos sien!

Pieter J

Dit is nou een ding wat Afrika-regerings graag doen om te lieg. Ongelukkig is hul pogings altyd baie amateuragtig.