Skokvideo van kindermishandeling nié in SA

Skermgreep uit die video

Skokkende beeldmateriaal wat op sosiale media en oor WhatsApp versprei word van kindermishandeling, is nie in Suid-Afrika verfilm nie.

Gerugte het in Suid-Afrika die ronde gedoen dat die voorval in Mitchell’s Plain plaasgevind het. Die polisie in die Wes-Kaap het aan Maroela Media bevestig dat só voorval nie in die provinsie plaasgevind het nie.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die voorval in Saoedi-Arabië plaasgevind het. Die ma, wat na bewering die persoon in die video is wat haar ses maande oue tweelingdogtertjies slaan en martel, is intussen in hegtenis geneem. In die video word die twee babas geklap en gewurg. In die video kan daar gesien word hoe die vrou een van die babas wurg en sê: “Vandag maak ek jou dood.”

Die ministerie van arbeid en maatskaplike ontwikkeling in Saoedi-Arabië het bevestig die gebeure is eg.

Ná die beeldmateriaal versprei is, het owerhede ʼn beroep gedoen vir inligting wat daartoe gelei het dat die persoon, wat die video’s gepubliseer het, aangekeer is. Dié man, Mohanad Al Hashdi van Yemen, het onthul dat die ma ʼn Somaliër is wat in Saoedi-Arabië bly. Haar man is ook van Yemen afkomstig.

Die egpaar is geskei en die vrou was in ʼn finansiële verknorsing. Sy het die beeldmateriaal verfilm en aan haar man gestuur om hom te waarsku wat sou gebeur as sy nie geld sou kry nie.

Die besorgde oupa het die beeldmateriaal met Al Hashdi gedeel en hy het dit op YouTube gepubliseer in die hoop dat die babas sodoende gered sou kon word.

Die tweeling is in Jeddah gevind en na ʼn hospitaal geneem. Hulle sal na verwagting nou in hul pa se sorg gelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leo ·

Die krag van sosiale media. So bly om te lees hulle is gekry en weggevat van haar af en dat hulle nie deel van statistiek is nie.

My mening ·

Ek hoop almal wat altyd so gal braak oor hoe ellendig dit in Suid-Afrika gaan, kan sien dat so iets in alle lande gebeur. Ja, Suid-Afrika het probleme, maar die kommentaar op op berigte laat dit lyk asof Suid-Afrika die hel vanself is en ander lande die paradys. Gaan lees bietjie wat in ander lande aangaan en bid vir alle lande se mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.