Skole in Nieu-Delhi weens lugbesoedeling gesluit

Giftige rookmis oor Nieu Delhi is toenemend ’n gesondheidsgevaar vir inwoners. (Foto: Money Sharma / AFP)

Skole in Nieu-Delhi, Indië, sal voorlopig vir een week gesluit wees weens grootskaalse lugbesoedeling in dié hoofstad.

Intussen oorweeg die owerhede ʼn “besoedelingsgrendeltyd” om burgers teen giftige rookmis te beskerm.

“Skole sal gesluit wees sodat kinders nie besoedelde lug hoef in te asem nie,” het Delhi se hoofminister, Arvind Kejriwal, Saterdag aan plaaslike verslaggewers gesê.

Delhi word as een van die wêreld se mees besoedelde stede beskou, met ʼn gevaarlike kombinasie van fabrieks- en voertuigvrystellings asook rook van landboubrande wat elke winter in die lug oor sy sowat 20 miljoen mense hang.

Die hooggeregshof het voorgestel dat Delhi ʼn grendeltyd opgelê word om die luggehaltekrisis te bekamp.

“Hoe anders sal ons lewe?” het hoofregter NV Ramana opgemerk.

Kejriwal het gesê sy regering sal die hof se voorstel oorweeg nadat hy belanghebbendes geraadpleeg het.

“ʼn Besoedelingsluiting het nog nooit vantevore plaasgevind nie. Dit sal ʼn uiterste stap wees.”

Volgens Kejriwal sal boubedrywighede vir vier dae gestaak word om stof by groot, oop terreine te verminder.

“Regeringskantore en private ondernemings is versoek om sover moontlik van die huis af te werk.”

Die Sentrale Besoedelingsbeheerraad het owerhede reeds Vrydag aangeraai om hulle op die inwerkingstelling van “maatreëls onder die noodkategorie” voor te berei.

Swak luggehalte sal waarskynlik tot 18 November voortduur “weens lae winde met kalm toestande gedurende die nag”.

Vlakke van stofdeeltjies wat weens inaseming in die bloedstroom opgeneem kan word, het Saterdag gevaarlike hoogtes bereik.

Hospitale het ook ʼn skerp toename in pasiënte met asemhalingsprobleme aangemeld.

Delhi belowe al jare lank om die stad se lug te suiwer, maar pogings om dít te doen het tot dusver ver tekort geskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.