‘Skoolskieter’ bring glo voëlkop skool toe

Ethan Crumbley het vier leerders by die Oxford High School in Michigan doodgeskiet. (Foto: Oakland County-polisie/AFP)

Bestuurslede van die skool in Michigan waar ʼn 15-jarige glo op sy klasmaats losgebrand het, word nou gedagvaar omdat hulle skynbaar nie gereageer het op verskeie waarskuwingstekens voor die skietery nie. Dit sluit in ʼn afgekapte voëlkop wat in ʼn bottel met geel vloeistof in die skool se badkamer agtergelaat is.

Ethan Crumbley word daarvan aangekla dat hy op 30 November by Oxford High School in Michigan in Amerika opgedaag en op sy klasmaats losgebrand het. Vier leerders is dood en sewe is beseer.

In die siviele eis word beweer dat die skool se bestuur verskeie gevaartekens as gering afgemaak en leerders en ouers gerusgestel het dat daar geen bedreiging is nie, terwyl hulle moes geweet het dit spel gevaar. “Die gruwels van 30 November kon heeltemal vermy gewees het,” lui die dagvaarding.

Dit is uitgereik deur familie van twee van die oorlewendes van die aanval, berig CNN. Die twee is susters. Een van hulle is in die nek geskiet en die ander een is net-net misgeskiet. Die dagvaarding eis $100 miljoen (ongeveer R1,5 miljard), onder meer vir mediese en sielkundige behandeling.

Luidens die dagvaarding het Ethan op 11 November die bottel met die voëlkop op die toiletpapierhouer in die seunstoilette gelos. Die voorval is by die skoolhoof aangemeld. Op 16 November het ouers weereens by die hoof gekla oor dreigemente wat Ethan teenoor studente op sosiale media gemaak het. ʼn Dag voor die voorval het Ethan ʼn wapen skool toe gebring en op die oggend van die skietery het een van Ethan se onderwysers glo ook op ʼn nota op sy skoolbank afgekom met ʼn tekening van ʼn geweer en ʼn persoon wat lyk of hulle bloei.

James en Jennifer Crumbley se huis in Oxford, Michigan, in die VSA. (Foto: Jeff Kowalsky/AFP)

“Nietemin het die skool ouers in verskeie e-posse laat glo dat daar ‘absoluut geen bedreiging’ is nie,” lui die dagvaarding.

Die aand voor die voorval het Ethan die beskrywing op sy Twitter-profiel verander na: “Nou word ek die Dood, die vernietiger van wêrelde. Sien jou môre Oxford.”

Die skool se regsverteenwoordiger het egter aan CBS gesê dat van die stellings wat in die dagvaarding gemaak word, vals is. Die skool het ook ten volle met die polisie saamgewerk in die ondersoek na die skietery.

Ethan het intussen Woensdag onskuldig gepleit op die 24 aanklagtes teen hom, onder andere verskeie aanklagtes van moord en terrorisme wat met die skietery verband hou.

Sy ouers word ook daarvan aangekla dat hulle waarskuwingstekens geïgnoreer het en hom toegang tot die geweer gegee het wat hy tydens die skietery gebruik het. Hulle word nou aangekla van onopsetlike manslag. Sy pa het glo die betrokke geweer net vier dae voor die skietery aangekoop.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.