Skoolskieter maak glo voorneme vooraf bekend

Nikolas Cruz en Melisa McNeill(Foto: Susan Stocker/ South Florida Sun-Sentinel via AP, Pool)

Die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) loop vandeesweek weer deur onder hewige kritiek nadat talle die liggaam daarvan beskuldig het dat hy die noodlottige skoolskietery by ʼn hoërskool in die deelstaat Florida kon verhoed het.

Minstens 17 hoërskoolleerders is Woensdagmiddag dood toe ʼn voormalige leerder met ʼn semi-outomatiese geweer in die gange van die Marjory Stoneman Douglas High School losgebrand het. Die voorval is bestempel as die dodelikste skoolskietery sedert ʼn soortgelyke voorval in 2012 by die Sandy Hook Elementary School in Connecticut waartydens 26 slagoffers doodgeskiet is.

Die skieter is as Nikolas Cruz geïdentifiseer nadat hy in ʼn Amerikaanse hof verskyn het. Die FBI word daarvan beskuldig dat hy nie die 19-jarige, wat sedert Woensdagmiddag in polisieaanhouding is, kon opspoor of in hegtenis neem nie nadat hy glo op YouTube geskryf het: “Ek gaan ʼn professionele skoolskieter word.” Die YouTube-gebruikersnaam stem glo ooreen met dié van Cruz.

Die FBI het in sy verdediging gesê hy het die persoon ondervra wat glo die kommentaar gerapporteer het, maar het ná ʼn ondersoek nie daarin geslaag om die persoon te identifiseer nie.

Dit is nie die eerste keer dat die FBI gekritiseer word vir voorvalle wat hy na bewering kon verhoed het nie. Die liggaam het volgens berigte glo kennis gedra van die skuldiges wat 50 mense doodgeskiet en 53 beseer het ná ʼn massaskietery by ʼn nagklub in Orlando. Die FBI het glo ook kennis gedra van die verdagte wat betrokke was by die New York-bomontploffing en ʼn skietvoorval by ʼn Florida-lughawe.

Die polisie het intussen meer inligting oor die voorval bekend gemaak. Volgens Scott Israel, ʼn polisiewoordvoerder, het Cruz losgebrand in drie klaskamers op die eerste vloer van die skool en daarna in nog twee klaskamers op die tweede vloer van die gebou. Hy het daarna glo die semi-outmatiese geweer neergegooi en hom as ʼn student voorgedoen toe almal ná die skietery uit die gebou gevlug het.

Israel sê Cruz het daarna glo na ʼn Subway-restaurant gevlug waar hy ʼn koeldrank gekoop het en toe kos by McDonald’s gekoop.

Cruz word nie in dié stadium met ʼn terreurgroep verbind nie. Melisa McNeill, sy regsverteenwoordiger, het vandeesweek tydens ʼn mediakonferensie gesê dat hy “berou” het oor die skietery en eenvoudig net ʼn “gebroke mens” is. Cruz is egter Donderdagmiddag borgtog geweier en sal verhoor word vir onder meer 17 aanklagte van moord.

Intussen het honderde mense Donderdagaand ʼn nagwaak vir die 17 oorledenes bygewoon. Talle in die gehoor het betoog teen skoolgeweld en die bywoners het glo in ʼn stadium luidkeels geskree: “Geen meer gewere nie! Geen meer gewere nie!”

Pres. Donald Trump van Amerika het vroeër in ʼn perskonferensie gesê hy beoog om na Florida te reis om met gesinne van die slagoffers te vergader en om te bepaal hoe skole beter beveilig kan word. Trump het ook aangedui dat hy die “probleem van geestesgesondheid” wil aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Joe Hall ·

Die FBI is veels te besig om vir Pres Trump te ondersoek en te diskrediteer, om hulself aan ‘onbenullighede’ soos terrorisme en waansinnige moorde op onskuldige mense te steur. Tragiese versuim van ‘n organisasie wat jarrrre gelede uitstekende werk gedoen het.

Zumie ·

In die kol Joe! Trouens daar is heelwat joernalistieke swaargewigte wat vermoed dat hierdie soort ding aangehelp word deur sektore van die veiligheidsgemeenskap om die VSA regering te dwing om te ontwapen en wapenbeheer in te stel. En vra nou wat is die volgende stap nadat die bevolking ontwapen is ….

Ronnie ·

“Geen meer gewere” gaan niks aan die saak verander nie. Dit gaan om verantwoordelike gedrag, minder regte en meer voorregte, meer beheer oor onwettige wapens, meer respek vir die mense rondom ons.

Casper Labuschagne ·

Baie dekades gelede het al die skole skietbane gehad en ‘n magasyn met .22 gewere en ammunisie, waar seuns onderrig is in die hantering van ‘n vuurwapen. Dit was die geval in SA, die VSA, Brittanje, Kanada, Australië en Nieu Seeland en moontlik elders ook. En in die tyd was daar nie ‘n enkele geval van ‘n skoolskieter nie en slegs enkele gevalle in die VSA van massamoordenaars wat met ‘n vuurwapen lukraak losgebrand het. Vandag word geen kind meer geleer om vuurwapens te kan gebruik nie, juis om die voorkoms van vuurwapens te beperk, terwyl voorvalle van skoolskietery gereeld voorkom. Is dit toeval, of is daar ‘n verband daarmee dat onderrig in die gebruik van vuurwapens op skoolvlak wel ‘n verskil gemaak het?

Ronel ·

Casper ek stem saam met jou. Selfs ons, die meisies, het kans gekry om te skiet as jy wou. Ek praat nou van 1980 rond. Ons was almal paraat en het geweet hoe om n wapen te hanteer. Ek was ook in die Voortrekkers en ons het selfs daar geleer om te skiet….al was dit met n windbuks vir die kleiner kinders…ons almal het geleer en verstaan. Ek glo dis waarom ons as kinders nie met vuurwapens gespeel het nie. So n geweldadige daad moet sekerlik n geweldige skok wees vir die kinders. Hulle het nou emosioneel en sielkundig hulp nodig.

Andre ·

President Trump het die regte probleem identifiseer, “Geestes gesondheid”.

PJC ·

Die FBI het nie hulle werk gedoen nie want hulle is te gefokus op Donald Trump. Nou gaan die Demokrate en al wat liberalis is weer wapenbesit blameer. Vir my is hulle net so ongewens soos die spul van “Gun FreeSA”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.