Skoonmaakdoekies toe reusevonds kokaïen

Die besending weggooibare skoonmaakdoekies vir babas. (Foto: Die Amerikaanse departement van doeane- en grensbeskerming)

Amerikaanse amptenare het onlangs ’n onverwagse dwelmvonds gemaak toe ’n besending weggooibare skoonmaakdoekies vir babas op die grens van die Verenigde State en Meksiko deursoek is.

Kokaïen met ’n beraamde straatwaarde van $11,8 miljoen (sowat R200 miljoen) is in dié besending skoonmaakdoekies vir babas versteek gevind.

’n Amptenaar van die Amerikaanse departement van doeane- en grensbeskerming het Vrydag besluit om ’n sleepwa met ’n vrag weggooibare skoonmaakdoekies by die Colombia- Internasionale Solidariteitsbrug vir ’n sogenaamde sekondêre inspeksie te verwys.

Dié brug verbind die Amerikaanse deelstaat Texas en die Meksikaanse stad Nuevo Laredo oor die Rio Granderivier, net noord van Laredo in Texas.

Die sekondêre inspeksie – ’n “nie-indringende” ondersoek waartydens snuffelhonde ingespan word – is uitgevoer en dit is tóé dat daar op 1 935 pakkies beweerde kokaïen van sowat 1 532,65 pond (695 kg) afgekom is.

Luidens ’n verklaring van die Amerikaanse departement van doeane- en grensbeskerming het amptenare dadelik op die besending dwelms beslag gelê. Spesiale agente van die Amerikaanse afdeling vir immigrasie- en doeane-ondersoek, verbonde aan binnelandse veiligheid, ondersoek sedertdien die beslaglegging.

“Hierdie beslaglegging is ’n uitstekende voorbeeld van grensveiligheidsbestuur en hoe dit help om te verhoed dat gevaarlike dwelms ons gemeenskappe bereik,” sê Alberto Flores, die hawedirekteur van die Laredo-toegangshawe in die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Witbaard ·

Moet net nie vleis probeer oorvat, dan het jy moeilikheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.