Skotse onafhanklikheid opnuut geopper ná verkiesing

Nicola Sturgeon. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Die Skotse Nasionale Party (SNP) het Sondag gesê sy “wegholoorwinning” in Skotland se half-outonome parlement is rede vir ʼn nuwe onafhanklikheidsreferendum.

Terwyl die SNP beloftes van ʼn nuwe stemming gemaak het tydens sy verkiesingsveldtog, is die Britse regering, wat wetlik toestemming sal moet gee, daarteen gekant. Dit kan lei tot ʼn langdurige politieke toutrekkery en regstryd.

Die SNP meen dat sy aantal setels, een minder as ʼn algehele meerderheid van 65, die party ʼn mandaat gee vir ʼn tweede onafhanklikheidsreferendum.

Nicola Sturgeon, leier van die SNP, het in haar oorwinningstoespraak gesê Westminster het nou “geen demokratiese regverdiging” om ʼn tweede referendum oor onafhanklikheid te ontken nie.

“Ek hoop om Skotland na onafhanklikheid te lei,” het sy Sondag aan die BBC gesê.

Sturgeon het gesê dit sal “absurd en heeltemal verregaande” wees indien so ʼn referendum tot ʼn hofstryd sou lei, wat kan gebeur as Westminster dit stuit en die Skotse parlement sy eie wetgewing aanvaar.

Boris Johnson, Britse premier, het gesê die referendum van 2014, waarin 55% “nee” gestem het, “moet ʼn een-keer-in-ʼn-leeftyd-geleentheid wees”.

Johnson het Saterdag gesê die SNP se aandrang op ʼn tweede referendum is “onverantwoordelik en roekeloos”.

Sturgeon het aan die BBC gesê sy dink nie die Britse regering sal uiteindelik die referendum teenstaan nie, aangesien dit as oneerbiedig teenoor die Skotte se demokratiese regte sal oorkom.

“Dit sou beteken dat die konserwatiewe regering weier om die demokratiese wense van die Skotte te respekteer,” het sy gesê. “Ek dink ek stel dit lig om te sê dat dit nie goed ontvang sal word nie.”

Michael Gove, ʼn senior Britse minister, het Sondag gesê al die leiers van die Verenigde Koninkryk se prioriteit is om van die koronaviruspandemie te herstel en die land het dus nie nou tyd vir ʼn “uitgerekte gesprek oor die grondwet” nie.

Gove het ook aangevoer die feit dat die SNP nie ʼn volstrekte meerderheid in die parlement het nie, soos voor die eerste referendum in 2014, maak ʼn “beduidende verskil”.

Op ʼn vraag of Skotland die Verenigde Koninkryk mag verlaat, het hy gesê: “Natuurlik … deur ʼn wettige referendum wat mense in staat stel om die keuse te maak”.

Die Scottish Greens steun ook ʼn referendum en ná die afgelope verkiesing is daar nou ʼn sterker meerderheid van pro-onafhanklike politici as voorheen, met 72 setels uit 129.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KB ·

Kan Michael Gove nie “multi-task” nie? Sy uitsprake klink vir my maar baie amateuragtig.
Boris Johnston praat soos ‘n verloorder…

Ek sou ook onafhanklik wou wees van hierdie Britse “laerskool” – welgedaan SNP!

Fedup ·

boris and gove should consider going on pension.
It is time for Scotland to be independent and free.
No more time for childish games.

RB ·

Klink of Boris & Gove bevrees is vir wat die uitslag van sò referendum mag wees.

Skotte is niè meer lus vir twak en drama van Engelse. Tyd dat hulle weer, soos van ouds, hul eie ding doen!

Ettienne ·

Sterk staan Skotland. Enige na die, hoe klein ook al het die reg op selfbeskikking. Ek glo dat die Wes-Kaap en ander provinsies in SA wat ook die pad tot selfbeskikking wil volg sal kers opsteek by die Skotte en ander wat die pad van onvervreembare reg tot onafhanklikeid wil volg.

Jaco ·

Dié mense wat so graag vir Skotland wil laat afstig vanaf die Verenigde Koninkryk , moet almal net 1 week deurbring in dié swak bestuurde SA met sy totale minagting vir minderheidsgroepe. Hulle sal terugkeer na die Verenigde Koninkryk en in trane jammer sê dat hulle wou afstig. Lewensomstandighede in die Verenigde Koninkryk is miljoene keer beter as in SA. Die hele Verenigde Koninkryk, Skotland ingesluit, is SONDER:
beurtkrag
regstellende aksie
plaasmoorde
swak vuil staatshospitale
min of geen munisipale dienslewering
Ens ens ens. My lys van agteruitgang in SA is eintlik BAIE lank…

Wakkerslaper ·

Jammer maar ek verstaan wraggies nie jou argument nie…? Wat 3rde wêreldse standaarde en agteruitgang in Suid Afrika met Skotland se onafhanklikheid te doen?

Jaco ·

Wat ek wil weet is waarom Skotland onafhanklik wil word? Dis dan klaar deel van ‘n hipermoderne 1ste wêreldland waar ALLES werk. Dis nie in so ‘n gemors soos SA nie.

Wakkerslaper ·

Ons Boere moet dalk dringend ‘n kuiertjie reël by die Skotte en Iere. Dit lyk vir my na volke wat ernstig is oor hulle eie volkstate en selfregering. Ons kry dalk ‘n paar goeie wenke en sommer hulle ondersteuning ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.