Skrywer skuldig aan man se moord

Die skrywer Nancy Brophy. (Foto: Facebook/ Nancy Brophy)

ʼn Amerikaanse romanskrywer wat ʼn blog getiteld “How to kill your husband” geskryf het, is vandeesweek aan die moord op haar eggenoot skuldig bevind.

ʼn Jurie in Portland, Oregon, het Woensdag slegs agt uur geneem om Nancy Crampton Brophy (71) skuldig te bevind aan die moord op Daniel Brophy. Sy staan tereg op moord.

Nancy se prokureurs beplan om teen die skuldbevinding te appelleer.

Staatsaanklaer Shawn Overstreet het gesê die skrywer, wat ook die boekereeks “Wrong Never Felt So Right”, wat die titels Wrong Husband en Wrong Lover insluit, was finansieel in die knyp voordat sy haar man in Junie 2018 twee keer geskiet het by die kulinêre instituut waar hy gewerk het. Sy is in September dieselfde jaar in hegtenis geneem.

Nancy het die aanklagte teen haar ontken en daarop aangedring dat beeldmateriaal wat haar op die toneel plaas, bloot gewys het dat sy na inspirasie vir haar boeke gesoek het.

Sy het ook beweer dat die vermiste vuurwapen wat die polisie vermoed die moordwapen was, slegs aangekoop is as navorsing vir haar roman. Sy het destyds aangevoer dat dit aangekoop is vir haar man om te gebruik as selfverdediging terwyl hy gaan “sampioene pluk”.

Sy het verder ontken dat die honderde duisende dollar se lewensversekering wat aan haar uitbetaal sou word ná Daniel se dood, ʼn goeie motief vir die moord is.

Overstreet het tydens die verhoor hope bewyse uiteengesit wat wys hoe Nancy beplan het om haar man, wat toe 63 was, te vermoor.

“Dit gaan nie net oor geld nie. Dit gaan oor die lewenstyl wat Nancy begeer het, maar wat Daniel nie vir haar kon gee nie,” het hy gesê.

Nancy het op haar beurt hierdie aantygings verwerp en gesê dat haar finansiële probleme reeds opgelos was ten tyde van haar man se dood.

“Ek was finansieel beter af toe Dan gelewe het as na sy dood,” het sy gesê.

“Waar is die motivering vir die moord dan? ʼn Redakteur sal lag en sê ‘Ek dink jy moet harder aan hierdie storie werk’.”

Haar prokureur, Kristen Winemiller, het aan die jurie gesê dat Nancy uiters lief was vir haar man.

“Jy kan dit elke keer in haar oë sien as sy oor hom praat. Haar oë glinster behoorlik.”

Nancy word nou deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar, maar sal eers op ʼn latere datum gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AmY ·

Nou moet sy op haar ouderdom tronk toe gaan.
Maar nou ja, moord is moord.

Burgermeester ·

Ek sal moet begin lig loop. My vrou is besig om ‘n komesie toneelstuk te skryf vir die planke getiteld: “Man te Koop”.
Iets gee my die idee as ‘n vrou ‘n titel kies, dan is dit nie sommer ‘n titel nie, dit is die waarheid.

melaney ·

Terwyl sy sit kan sy nog ‘n boek skryf getiteld “The biggest bugger up of my life”

Hannelie ·

Ja mens is seker altyd baie lief vir jou man…….tot jy sal moor vir geld. Moord bly moord sy moet maar sit.

JohanR ·

Jou Auntie maar jy’s darem wild! Het iemand al daai ANC boek gelees “How to destroy a country in 28 years?”

Wielspore ·

Vrou aan haar man, “volgens die boek wat ek skryf is dit nou die regte tyd om seker te maak jy het ‘n testament”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.