‘Skull Breaker’ op TikTok: Ouers móét weet

‘n Skermgreep uit die video deur ABC News.

Die jongste sosialemedia-tendens wat ouers se nekhare laat rys, is die sogenaamde Skull Breaker-uitdaging, wat hoofsaaklik op TikTok, ʼn video-app, versprei word.

Dié uitdaging behels dat drie persone langs mekaar staan. Die middelste persoon spring dan in die lug op en die ander twee skop dan sy voete onder hom uit sodat sy kop teen die vloer kap.

Wêreldwyd is talle deelnemers aan dié uitdaging gehospitaliseer met ernstige kopbeserings en volgens berigte is hierdie uitdaging een van die gevaarlikste nog. Nog gevaarlike sosialemedia-uitdagings onder skoolkinders sluit in die Kylie Jenner Lip-uitdaging, Skin Eraser-uitdaging en Deodorant-uitdaging.

Die Kylie Jenner Lip-uitdaging behels dat tieners hulle lippe in ʼn shooter-glasie, klein glasfles of bottel sit en dan die lug uitsuig, wat ʼn vakuum vorm. Die doel is om voller lippe te verkry soos die realiteitsreeksster na wie die uitdaging vernoem is.

Die Skin Eraser-uitdaging is soortgelyk aan die Scar and Burn-uitdaging. Die Skin Eraser-uitdaging behels dat die vel van die voorarm met ʼn potlooduitveër gevryf word, wat wrywing veroorsaak en die vel brand. Die doel is om te kyk hoe lank die deelnemer die pyn kan verduur en dit te verfilm vir sosiale media.

Dit is ook soortgelyk aan die Deodorant-uitdaging, waar ʼn kannetjie spuitdeodorant so na as moontlik aan die vel gespuit word, wat dan tot tweede- en derdegraadse brandwonde lei.

ʼn Onlangse peiling deur Maroela Media, waaraan 1 337 lesers deelgeneem het, het getoon dat 37% mense hulle kinders vertrou om self te weet waarna hulle op die internet mag kyk.

Private speurder Mike Bolhuis maan egter ouers om uiters waaksaam te wees oor die gevaarlike praktyke wat op en van die skoolterrein af plaasvind.

“Dit is ʼn onderwerp wat nie ignoreer moet word nie. Die persepsie dat dit nie met jou kind kan gebeur nie, is verkeerd. Dit kan. Dit is ʼn gevaarlike speletjie wat deel is van ʼn reeks gevaarlike praktyke en poetse wat deel vorm van die daaglikse lewe van elke skoolkind,” het Bolhuis gesê.

Nie almal wat aan die Skull Breaker-uitdaging deelneem, is bewus van wat op hulle wag nie en sommige deelnemers word onder valse voorwendsels deur ander aangemoedig om in dié video’s te verskyn.

Kathleen DeJesus (13) van die VSA is ʼn slagoffer van die Skull Breaker-uitdaging. “Ek kon nie opstaan nie en ek kon nie my hande voel nie. Ek kon nie my bene of my voete voel nie, niks. Ek was lam,” het sy aan ABC News gesê.

“Ek het geskree dat ek ʼn ambulans nodig het. Ek het gedink ek gaan my lewe verloor as gevolg van hierdie speletjie en ek moes dit nooit gedoen het nie.”

DeJesus het twee dae in die hospitaal deurgebring nadat sy harsingskudding opgedoen het.

Volgens Common Sense Media moet ouers bewus wees oor die volgende risiko’s van TikTok:

  • TikTok-gebruikers teken in met telefoonnommer, e-pos‑adres, Facebook‑ of Instagram-rekening.
  • TikTok se hooffokus is musiek en dans, soms met eksplisiete lirieke.
  • As gevolg van die aantal kinders onder 13 wat van die platform gebruik maak, het die ontwikkelaars ʼn aparte afdeling van die toepassings vir kinders geskep wat hulle slegs toelaat om saamgestelde, “skoon” video’s te kyk. Hulle kan nie kommentaar lewer, die soek-funksie gebruik of hul eie video’s plaas nie. Dié afdeling is slegs geaktiveer as kinders hul werklike geboortedatum gebruik, maar kan omseil word indien ʼn valse geboortedatum gebruik word.
  • Daar is die opsie om die rekening privaat te maak, wat verseker dat slegs mense wat jou kind volg die inhoud kan sien.
  • As ʼn ouer kan jy ʼn buffer wees tussen jou kind en negatiewe inhoud deur saam met jou kind die video’s te kyk en te skep. In plaas van om jou kind te verbied om die app te gebruik, omhels die platform saam met hulle deur te leer hoe om die platform te gebruik.

TikTok het op navraag deur Gulf News in Dubai gereageer met ʼn kort verklaring. “Die veiligheid en welstand van ons gebruikers is ʼn topprioriteit by TikTok. Soos ons dit duidelik maak in ons gemeenskapsriglyne, laat ons nie inhoud toe wat gevaarlike uitdagings bevat wat kan lei tot die aanmoediging van beserings, dit bemark of verheerlik nie. Indien sulke inhoud aangemeld word, sal ons dit verwyder.”

Kyk na hierdie video deur ABC News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pampoen

TikTok se kommentaar stink na self verontskuldiging. Net soos met pornografie, kan jy nie jou kinders beskerm met ‘n heining nie. Net opvoeding sodat hulle self die regte keuses kan maak.

Helen

Geen persoon met ‘n gesonde verstand kan dink dis ‘n speletjie nie.

Koos

Die mense raak al dommer op die planeet!

Gawie

Ek het na van die videos gekyk – duidelik het meeste van die slagoffers nie geweet wat op hulle wag nie. Van hulle het dan ook sleg seergekry. Ongelukkig is dit so dat in vandag se samelewing mense enigeiets sal doen om ‘in’ te wees. Toe ek jonk was het my ouers met ons speletjies gespeel – ook partykeer rof, maar nooit onverantwoordelik nie – en ons het geleer wat is gevaarlik en wat nie, maar veral om ons gesonde verstand te gebruik.

gatgogga

Dis ‘n vuil triek.