Slagoffers van Denemarke-aannemingskandaal eis antwoorde

May-Britt Koed is in 1977 deur haar Deense ouers aangeneem. (Foto: Camille Bas-Wohlert / AFP)

“Ek weet nie eens wanneer ek gebore is nie.”

Só sê May-Britt Koed, ʼn restauranteienaar van Kopenhagen en een van die kwartmiljoen Suid-Koreaanse babas wat sedert die 1950’s vir aanneming oorsee gestuur is.

Koed se aannemingslêer bevat twee geboortedatums maande uitmekaar, en sy vermoed dis dalk omdat sy met ʼn ander baba omgeruil is wat nie oorleef het nie.

Kenners het intussen ook gesê die babafoto van ʼn mollige klein Koed wat destyds aan haar Deense aanneemouers gestuur is, is dalk nie eens sy nie.

Al wat die 47-jarige Koed vir seker weet, is dat sy op 17 Mei 1977 in Denemarke aangekom het.

Haar saak is egter nie enig in sy soort nie. Die skandaal oor vervalste rekords kring nou vinnig uit en het ʼn ondersoek deur Suid-Korea se waarheid-en-versoeningskommissie genoop.

Dié kommissie sal binnekort honderde sake van die land se sogenaamde “babaplaas” bekyk wat vroeër jare, toe die land nog onder diktatorskap was, tot die vestiging van ʼn enorme aannemingsektor gelei het.

Volgens Koed het haar Deens-Koreaanse regtegroep honderde lêers met vervalste dokumente onder oë gehad. Baie van die babas wat eindelik in Denemarke aangekom het, het heel ander kenmerke as dié in die lêers gehad. Sommiges was byvoorbeeld 6 cm korter as wat op dokumentasie aangedui is.

ʼn Verslag het ook bevind sommige aannemingsagentskappe – wat deur die Deense regering bestuur is – het baie goed geweet dat hul Suid-Koreaanse vennote in die 1970’s en 1980’s kinders se identiteit vervals het.

Die babafoto’s in May-Britt Koed se aannemingsleêr is heel moontlik van ‘n ander kind. (Foto: Camille Bas-Wohlert)

“Wat nog meer kommerwekkend is, is briewe deur geboorteouers wat wou weet waar hul kinders is,” het Marya Akhtar, verbonde aan die Deense Instituut vir Menseregte, gesê.

“Dié briewe was na bewering oënskynlik in besit van owerhede in Denemarke. Waarom het niks gebeur nie? Ons eis dat ʼn deeglike ondersoek gedoen word,” het sy bygevoeg.

Skandaal verdiep

Benewens bewerings dat Deense aannemingsagentskappe bewus was van wat aangaan, word hulle ook daarvan beskuldig dat hulle na bewering meer as $7,9 miljoen (meer as R153 miljoen) aan Koreaanse weeshuise en ander instellings betaal het om aannemings te fasiliteer.

Dié stellings is in ondersoekende nuusberigte in Denemarke gemaak.

Denemarke het in Januarie vanjaar alle internasionale aannemings opgeskort in die lig van ernstige bekommernisse oor babas wat ook van ander lande soos Indië en Suid-Afrika af kom.

“Dit is soos om ʼn Pandora-kis oop te maak,” het Koed gesê.

“Ons is nou op ʼn punt waar ons duidelik kan sien dat die Deense regering betrokke was.”

Koed se mensregtegroep dring aan dat ʼn kommissie van ondersoek op die been gebring word.

“Almal verdien om die waarheid te weet – veral die aangenomes wat hul eie herkoms en geskiedenis bymekaar probeer sit.

“Ek het nog nie na my biologiese familie gesoek nie, en ek is ook nie seker of ek gaan nie. Ek doen hierdie opvolgondersoek namens ons almal – om die waarheid te onthul oor wat met ons gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik is.”

Koed sê dié wat wel na hul biologiese familie op soek is, se tyd raak min.

“Sommiges het reeds verneem dat hul geboorteouers dood is.”

Kopenhagen se haltroep wat internasionale aannemings betref, volg nadat die laaste aannemingsagentskap in dié stad toegemaak het weens finansiële druk en bedrieglike aktiwiteite wat die toestemming en goedkeuring betref – nie net in Suid-Korea nie, maar ook Suid-Afrika, Indië en Madagaskar.

Sibbe is in baie gevalle geskei en selfs na verskillende lande vir aanneming gestuur.

“Die risiko van kinderhandel en -diefstal is net te groot,” het Pernille Rosenkrantz, minister van sosiaal-maatskaplike aangeleenthede in Denemarke, oor die regering se besluit gesê.

Sy het verlede jaar belowe om ʼn ondersoek na die geskiedenis van internasionale aannemings te doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Ken jy nou van kla met ‘n witbrood stewig onder die blad….

george ·

Hennie Biebouw, moenie dit doen nie. Suid-Korea is presies n Eerstewereld land nes Denemarke. Dit is nie n gehuggie waaruit babas gered was nie. Gaan lees die geskiedenis oor die tipe aannemings en dan oordeel jy. Die babas is wel in goedertrou aangeneem, en opgegee. Die onderskeie regerings het drooggemaak. En dis dit. Die mense is nie ontsteld oor hulle aangeneem was nie, wel oor die leuens oor hoe wat en waar! moenie kritiseer wat jy nie n idee het van nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.