Slagoffers van Zim-slagting sal dalk vergoed word

Robert Mugabe. Foto: ANA

Zimbabwe sal na verwagting binnekort met gesprekke begin oor vergoeding vir slagoffers van ʼn berugte 1980’s-slagtings wat plaasgevind het toe die voormalige pres. Robert Mugabe aan bewind was, het die regering Saterdag gesê.

Sommige slagoffers sal ook opgegrawe en weer begrawe word volgens plaaslike tradisie, lui die verklaring.

Die nuus volg ná gesprekke tussen pres. Emmerson Mnangagwa en stamhoofde oor voortgesette griewe oor die sogenaamde Gukurahundi-slagtings. Die Gukurahundi is die beweerde gepoogde volksmoord op die Noordelike-Ndebeles (ook genoem Matabeles) in Matabeleland-Noord en Matabeleland-Suid (in Zimbabwe) wat geduur het van 1983 tot 1987.

Van 1983 het Mugabe ʼn Noord-Koreaans opgeleide weermageenheid, bekend as die Vyfde Brigade, ontplooi om politieke afvalliges uit te roei in die nuwe onafhanklike Zimbabwe, sê regtegroepe.

Na raming is sowat 20 000 mense oor ʼn paar jaar doodgemaak, volgens die Zimbabwiese Katolieke Kommissie vir Geregtigheid en Vrede. Dié dodetal word deur Amnestie-Internasionaal ondersteun. Meeste van die slagoffers het aan die minderheid Ndebele-stam behoort.

Gukurahundi is ‘n woord uit die taal van die Mashona met die betekenis “die vroeë reën was die kaf weg voor die lentereën begin”, dus “die wegvee van die vuilgoed”.

Mnangagwa het in daardie stadium as minister van sekuriteit gedien.

ʼn Verklaring van die president ondersteun aanbevelings deur die Nasionale Raad vir Stamhoofde oor vergoeding en beloof konsultasiegesprekke met alle betrokke partye.

Die vraag oor opgrawings en herbegrawings moet saak-vir-saak opgelos word, en plaaslike tradisies moet gerespekteer word, het Mnangagwa bygevoeg.

Hy het verskeie vergaderings die afgelope jaar belê om die kwessie oor die slagtings op te los.

Mugabe, wat in 2019 gesterf het, het nooit aanspreeklikheid aanvaar vir die slagtings nie. Hy het Amnestie-Internasionaal se bewyse afgemaak as “ʼn spul leuens”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Nou waar gaan hy geld kry om die mense te vergoed? Dit gaan ook nie die dooies lewendig maak nie!

Flip ·

Maklik, verhoog net die belasting van die paar besighede wat nog daar belê of “verkoop” myne aan China. Vat dan een persent daarvan om die mense te vergoed en die ander 99 persent vat die regering…

Dawie ·

Presies Anel, so ver ek kan onthou het hulle laaste wat ek gelees het nog geld gesoek om blanke boere vir hulle grond te vergoed. Het dit ooit al gebeur?

Pieter ·

Mugabe vereer (onder andere deur Frankryk onder Jacques Chirac) en nooit oor die vingers getik hieroor nie. Ook ‘n Zuma maatjie.

Yvonne ·

Ag asb…dit gaan oor honger vir geld….niks kan daarvoor help nie….die gebeure kan nie ongedaan gemaak word nie…..beweeg aan

Frank John ·

Daar is altyd hoop in die dag van more. Ons verstaan nie altyd hoe God werk nie en ons ken nie Sy metodes en Sy tyd tafel nie maar die toekoms behoort aan Hom.

Jaco ·

Wat tussen 1983 en 1987 met die Matabeles in Zimbabwe gebeur het, kan in SA ook met die wit minderheid gebeur. Onthou ook maar Rwanda in 1994b binne 1 maand het die hutu meerderheid 1 miljoen van die meer welvarende tutsi minderheid uitgemoor. Hier in SA sê ramaphosa al reeds dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. Malema sê weer “we are not asking for the killing of white people; at least not for now”. Maar wanneer ek teen dié dinge waarsku, word ek afgeskiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.