“Slang” na Mars

SINTEF se navorsers Pål Liljebäck , Aksel Transeth, en Knut Robert Fossum van NTNU se CIRiS, speel met Wheeko. Foto: SINTEF/Thor Nielsen.

SINTEF se navorsers Pål Liljebäck , Aksel Transeth, en Knut Robert Fossum van NTNU se CIRiS, speel met Wheeko. Foto: SINTEF/Thor Nielsen.

Curiosity en die twee ouer tuigies, Opportunity en Spirit, verstom die wêreld met wat hulle reeds op Mars vermag het.

Maar iets met wiele hét beperkings oor waar dit oral kan bykom.

Daarom het die Europese Ruimte-agentskap die Noorweegse firma, Sintef, getaak om ‘n tuigie te ontwerp wat wel by moeilike plekke sal kan uitkom, soos deur noutes en oor los sand te beweeg.

Dis presies wat ‘n slang kan doen, en dis wat Sintef ontwerp.

Die idee is nie dat die “slang” op sy eie verkenningswerk sal doen nie, maar as ‘n arm van ‘n konvensionele Marstuig sal dien. Wanneer daar egter iets besonders op ‘n moeilike plek is wat bygekom moet word, sal die slang hom kan losmaak van die tuig, en na sy bestemming kan “seil.”

Die slang sal egter steeds met ‘n kragkabel aan die Marstuig gekoppel wees.

Weeko, ‘n prototipe met ‘n kamera as “bek”, word reeds getoets.

Die slang sal ook so ontwerp word dat dit materiaal kan versamel en na die moedertuig kan terugbring vir ontleding. Dit sal egter ook nuttig wees wanneer die ruimtevaart so ontwikkel het dat materiaal van Mars teruggebring kan word aarde toe.

Sintef se mediaverklaring kan hier gelees word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.