Slapende vlieëniers mis landing

Foto ter illustrasie. (Foto: Facebook / Ethiopian Airlines)

Twee vlieëniers van Ethiopian Airlines het verlede week hul landing misgeloop toe hulle tydens ʼn vlug van Soedan se Khartoem na Ethiopië se hoofstad Addis Abeba aan die slaap geraak het.

Volgens Aviation Herald het die voorval verlede Maandag (15 Augustus) plaasgevind. Lugverkeerbeheerders het waarskuwings uitgereik toe vlug ET343 die lughawe genader het, maar nie vir landing begin daal het nie.

Die lugvaartontleder Alex Macheras het die voorval as “uiters kommerwekkend” op Twitter beskryf, en die voorval aan “vlieëniersmoegheid” toegeskryf.

Die nuusblad NDTV berig die vliegtuig se outomatiese vlieënierstelsel het die tuig laat vaar toe vlieëniers aan die slaap geraak het. Die Boeing 737 was sowat 37 000 voet (11,2 km) in die lug.

Lugverkeerbeheerders het verskeie kere met die vlieëniers probeer kontak maak, maar hulle nie in die hande gekry nie. Toe die vliegtuig verby die landingsone vlieg, het die outomatiese stelsel afgeskakel wat ʼn alarm laat afgaan het. Dít het die vlieëniers wakker gemaak.

Hulle kon die vliegtuig omdraai en het sowat 25 minute later veilig geland.

Niemand is in die voorval beseer nie. Dis nie duidelik hoeveel passasiers aan boord was nie.

Data van die lugvaartmoniteringstelsel ADS-B het die voorval bevestig en ʼn foto van die vliegtuig se vlugplan uitgereik wat wys hoe die vliegtuig verby die landingstrook vlieg en naby die Addis Abeba-lughawe omdraai.

(Die vlugplan is deur FlightAware gepubliseer)

ʼn Soortgelyke voorval is in Mei vanjaar aangemeld. In dié geval het twee vlieëniers tydens ʼn vlug van New York in die VSA na Rome in Europa aan die slaap geraak toe die vliegtuig 38 000 voet (byna 12 km) in die lug was.

ʼn Ondersoek is ná afloop van die voorval van stapel gestuur wat bevestig het dat die vlieëniers albei gedurende hul vlug oor Frankryk geslaap het.

Dis nie in dié stadium duidelik of enige stappe teen die vlieëniers van Ethiopian Airlines gedoen gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Anel ·

En dan wonder mense hoekom ek nie vlieg nie??? As hulle weet hulle vlieg so lank, behoort hulle behoorlik uit gerus te wees. Maak ook beurte om te slaap, maar my!!!

piet ·

Dit was nie ‘n lang vlug nie. Die afstand is omtrent dieselfde as van Kaapstad na Bloemfontein. Bietjie meer as ‘n uur se vlugtyd. Hierdie lyk baie vreemd, wonder of daar nie een of ander tegniese probleem was nie, soos lugdruk probleem in die kajuit of iets.

Anel ·

Is dit die geval was, hoekom word dit nerens genoem nie? Ek glo nie dit was dit nie. Dalk het Bachus ‘n rol gespeel? Mens kan net bespiegel.

Koos 100 ·

Lugdruk probleem maak binne 15 sekondes mense dood. Hierdie is bykans ‘n allerdaagse ding wat gebeur, en meer so na COVID. Tydens die inperking is personeel van lugdienste afgedank op strepe, en nou moet die paar wat oorgebly het baie meer werk en die wet word net net nagekom wag rustyd betref. As jy daarbo sit en niks doen behalwe monitor nie dan sal jy aan die slaap raak, net soos in ‘n kar of trok.

piet ·

Tydens ‘n 1-uur vlug raak ALBEI vlieeniers aan die slaap van oormoegheid? Hoogs onwaarskynlik.

piet ·

Nie noodwendig nie, dit mag dalk net genoeg gewees het om hulle aan die slaap te sus.

ES ·

Sjoe, dit kan nie nie gebeur nie – hulle is verantwoordelik vir al die siele aan boord. Hopelik neem die lugredery tugstappe teen die vlieniers.

Samuel ·

Daar moet tugstappe teen die lugredery geneem word wat die vlieëniers dwing om te vlieg en nie die nodige rusperiodes mag neem nie. Alles gaan oor geld vir die lugrederye.

piet ·

Dis ‘n nagmerrie. Werklik vreemd dat altwee vlieeniers aan die slaap sal raak.

Oosieoos ·

Dis baie ernstig en behoorlike stappe moet gedoen word om seker te maak so iets gebeur nie weer nie kon baie mense se dood veroorsaak het

marius ·

Hier slaap almal wat aan die stuur van sake staan . Al vir dertig jaar . En hulle kry oortyd daarvoor .

Johanncb ·

Hierdie kon in ‘n ramp ontaard het! Kan die loodse nie ‘n armband dra wat hulle waarsku as hulle aan die slaap raak nie?

Manie ·

Hulle behoort nooit ooit weer toegelaat te word om te vlieg nie.

piet ·

Ek is nou sommer weer lus om Stephen King se “The Langoliers” te lees. Lees dit as jy dit nog nie gedoen het nie.

Delia ·

Dalk moet mense wag voor hulle gevolgtrekkings maak. My man was in die lugmag in die jare 80s. Die vlieèners het aan die slaap geraak, probleme met die druk in die vliegtuig. Gelukkig was een man aan boord n diepseeduiker wat besef het daar fout. Die storie het n gelukkige einde gehad.

Jakes ·

Ek is nolie verbaas nie. Wat verwag jy wanneer die lugredery in Afrika gevestig is? Toets hulle vir drank en dwelm misbruik.

Blikkies ·

Verwag eerder so iets van hierdie nuwe span aviators van ons.

Lillian ·

Ek lag nou maar sou seker nie as ek op daai vlug was nie! LOL!!!!

KatjieDeKat ·

Ek sou Nooit vir een oomblik eens kon ontspan, never mind Slaap, met soveel lewens in my hande nie.

christo ·

Enige vlieënier sal jou kan vertel dat die landing van die vliegtuig, die belangrikste is. Net soos om aan die slaap agter die stuur van ‘n voertuig kan dit ‘n dodelike nadraai hê. Dalk kan ‘n FlySafair vlieënier vir Maroela ‘n normale werksdag kan beskryf.

ALTA ·

lugwaardinne gaan seker nou nog n taak opgele word .Kyk dat die vlieeniers wakker is of dan ten minste dat net een op slag slaap.

Jack ·

Hulle jol heelnag en slaap wanneer hulle werk. Met hierdie verantwoordelikheid en menselewens wat hulle skynbaar minag moet elke vlieenier eers n basiese gesondheidsklaring kry voor elke vlug. Dit moet nie eers onderhandelbaar wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.