Slegs 9% van plastiek wêreldwyd herwin

Argieffoto (Foto: Anastasia Gepp/Pixabay)

Slegs 9% van plastiek wat wêreldwyd gebruik word, word herwin, het die OESO Dinsdag gesê. Die organisasie versoek “gekoördineerde en wêreldwye oplossings” voor verwagte gesprekke oor ʼn internasionale ooreenkoms oor dié kwessie.

ʼn Nuwe verslag deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) bevind dat 460 miljoen ton plastiek verlede jaar gebruik is – die getal het sedert 2000 verdubbel.

Die hoeveelheid plastiekrommel het in dieselfde periode ook verdubbel tot 353 miljoen ton, het die Parys-gebaseerde OESO bygevoeg.

“Ná mens verliese tydens herwinning in berekening bring, word slegs 9% van plastiekrommel uiteindelik herwin; 19% word verbrand en 50% is na vullisterreine,” sê die organisasie in sy Global Plastics Outlook. “Die oorblywende 22% beland op onbeheerde stortingsterreine, word in oop putte aan die brand gesteek of lek in die omgewing in.”

Tydens die Covid-19-pandemie het gebruik van plastiek in 2020 met 2,2% afgeneem, in vergelyking met die vorige jaar. Enkelgebruikplastiek het egter toegeneem en algehele gebruik sal na verwagting weer toeneem sodra ekonomieë herstel.

Plastiek het in 2019 altesaam 3,4% bygedra tot wêreldwye kweekhuisgasse, waarvan 90% uit die vervaardiging en omsetting van fossielbrandstof afkomstig is.

In die lig van klimaatsverandering en besoedeling “is dit noodsaaklik dat lande op die uitdaging reageer met gekoördineerde en wêreldwye oplossings”, sê Mathias Cormann, sekretaris-generaal van OESO.

Die organisasie het ʼn rits aanbevelings om die kwessie te takel, insluitend om die mark vir herwinbare plastiek verder te ontwikkel, wat tans slegs 6% van die geheel verteenwoordig, hoofsaaklik omdat dit duurder is.

Nuwe tegnologieë om die omgewingsvoetspoor van plastiek te verminder, verteenwoordig slegs 1,2% van alle nuwe tegnologie rondom die produk.

“Ons versoek ʼn sirkel-plastiek-leefsiklus,” het OESO bygevoeg en gesê beleide moet ook in plek gestel word om algehele gebruik te beperk.

Die organisasie versoek ook “enorme beleggings in basiese afvalbestuur-infrastruktuur”, insluitend €25 miljard per jaar vir lae- en middelinkomstelande.

Die verslag kom minder as ʼn week voor die Verenigde Nasies se Omgewingsvergadering op 28 Februarie in Nairobi begin. Formele gesprekke sal gevoer word oor ʼn moontlike ooreenkoms oor plastiek. Die omvang daarvan is nog nie bekend nie.

Volgens ʼn opname wat Dinsdag deur Ipsos gepubliseer is vir die Wêreldnatuurlewefonds, het ʼn gemiddeld van 88% van respondente in 28 lande gesê ʼn internasionale ooreenkoms om plastiekbesoedeling te takel is “redelik belangrik” (23%), “baie belangrik” (31%) en “noodsaaklik” (34%).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Gebruik papier of iets wat kan afbreek. Die oseaan lei daaronder. Ons vergiftig die aarde. Party besoedeling is onmoontlik om om te draai.

Christine ·

Wat het geword van die Suid Afrikaanse maatskappy wat in 2019 plastiekpaaie begin toets het in KZN? Met teer wat soveel slaggate inkry na elke reenbui en ongelukke veroorsaak, sal dit baie geslaagd wees. Ek het gelees die plastiekpaaie is baie sterker. Sien Rusland sit nou opgesnyde rubberbande ook in die plastiek om die paaie
aan meer rek en inkrimp vereistes te voldoen gedurende verskillende seisoene. Ons wêreld versuip in plastiek terwyl besighede te lank neem om op hul voete te kom, want die staat beskerm seker weer hul teer-maatskappy cronies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.