Slegs vroue neem deel aan dié ruimtewandeling

Jessica Meir (links) en Christina Koch in die internasionale ruimtestasie (17 Oktober 2019) (Foto: NASA via AP)

Nasa-ruimtevaarders Christina Koch en Jessica Meir het Vrydag geskiedenis gemaak toe hulle die eerste slegs-vroue ruimtewandeling onderneem het om ʼn deel van die internasionale ruimtestasie (ISS) te herstel.

Die Amerikaanse ruimteagentskap het gesê die sewe uur 17 minuut lange ruimtewandeling is “nog ʼn mylpaal in die mens se ruimteontdekkingsreis”.

Die twee vroue het suksesvol hul sending afgehandel om ʼn foutiewe battery-eenheid aan die ISS se buitekant te vervang wat vroeër vandeesmaand nie wou aktiveer nie. Die eenheid reguleer die energie wat van die stasie se sonkragpanele ontvang word.

Die ruimtewandeling het byna twee uur langer as wat aanvanklik verwag is geduur, aangesien die vroue bykomende werk moes doen.

Stephanie Wilson, die voormalige ruimtevaarder en koördineerder vir ruimtewandelings by die beheertoring in Houston, Texas, was die twee vroue se gids. Sy het saam met drie vroulike kommentators die regstreekse uitsending op Nasa TV behartig.

Meir het gesê hulle het ses jaar lank opleiding ontvang. “Vir ons is dit net om uit te kom en ons werk vandag te doen,” het sy gesê. Sy het ook die vroulike ruimtevaarders geloof wat in die verlede ruimtewandelings onderneem het – altyd vergesel deur mans. “Ons besef dit is ʼn geskiedkundige gebeurtenis en ons wil krediet gee aan almal wat dit voor ons gedoen het. Daar is ʼn rits vroulike wetenskaplikes, ontdekkers, ingenieurs en ruimtevaarders en ons het in hul voetspore gevolg tot waar ons vandag is.”

Dit was die Amerikaanse Koch se vierde ruimtewandeling en Meir se eerste. Meir is in die VSA gebore, maar het ook Israeli en Sweedse burgerskap.

Hulle is onder 15 vroue wat al ruimtewandelings onderneem het. Svetlana Savitskaya van Rusland was die eerste vrou in Julie 1984 om ʼn ruimtewandeling te onderneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pluto ·

Pragtig. Los hulle asb daarbo, ‘n klein stap vir hulle maar ‘n belangrike een vir die mensdom.

Gert van Wierdapark ·

Seker maar langer geduur weens al die geklets,? He-he-he!

Hendrik ·

Hier speel meriete ‘n rol en net die beste kandidate word gebruik vir die take op die ISS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.