Slegte weer belemmer soektog na klimmers

Die K2-berg in Pakistan (Foto: Vincent Romain via Unsplash)

Die soektog na drie bergklimmers wat op die K2-berg in Pakistan vermis geraak het, is Dinsdagmiddag weens slegte weerstoestande gestaak.

ʼn Groot soektog is verlede week van stapel gestuur nadat drie klimmers, John Snorri van Ysland, Juan Pablo Mohr van Chili en Muhammad Ali Sadpara van Pakistan, Vrydag kontak met die basiskamp verloor het.

Raja Nasir Ali Khan, die minister van toerisme in Gilgit-Baltistan in Pakistan, het gesê die soektog is sedert Dinsdagmiddag weens slegte weerstoestande gestaak.

“Die soektog sal voortgaan sodra die weer verbeter,” sê Ali Khan.

Die K2 is die wêreld se naashoogste bergpiek en geleë in die Gilgit-Baltistan-streek in Pakistan.

Die weerstoestande op K2 is straf – met winde wat teen ʼn spoed van meer as 200 km/h waai en die temperatuur wat tot -60 ˚C kan daal. Dié berg is minder gewild as die berg Everest, juis oor dié ongunstige weersomstandighede.

Sedert Januarie is twee klimmers reeds teen die hange van dié berg oorlede en ʼn derde een het vermis geraak.

Altesaam 60 klimmers het die afgelope paar maande na die K2 saamgetrek om dié berg ondanks die strawwe toestande uit te klim. ʼn Span Nepalese klimmers het onlangs suksesvol tot heel bo geklim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.