Slim tegnologie besorg Namibië sy eerste bloubessie-oes

Nette beskerm die Mashare-projek se bloubessies teen die skerp  Namibiese son. Die foto’s is in Januarie 2020 geneem, slegs twee maande nadat die JupiterBlue-bessies geplant is. (Foto: Verskaf.)

Die meeste mense sou enige droom om die sappigste bloubessies in die dorre Namibië te verbou vroeër net as nog ʼn belaglike hersenskim afgelag het.

Tog is dit presies wat Mashare Berries Farming, naby die Okavangorivier tussen die dorpies Mashare en Mupapama in die noorde van Namibië, nou doen. Die eerste suksesvolle bloubessie-oes word tans op die 20 ha-ontwikkeling versamel vir plaaslike en internasionale verbruik.

Die bessies, met die handelsnaam Namib Blue, behoort in Augustus na markte in onder meer Europa, Asië en eilande soos Mauritius, die Maledive en Seychelle uitgevoer te word.

Volgens Willem Mostert, die Namibiese bestuurder van Cherry Irrigation, wie se span die ten volle outomatiese drupbesproeiing- en bemestingbestuurstelsel vir die baanbrekersprojek ontwerp en in werking gestel het, is die gehalte van die vrugte wat geoes is tot dusver uitsonderlik.

“Ons het bewys wat moontlik is met die regte beplanning, infrastruktuur en bestuur,” het die Namibies-gebore Mostert gesê.

Albert Basson, direkteur van die Mashare-projek, sê die 2020-oes sal tot einde Oktober voortduur.

“Ons verwag ʼn opbrengs van tot 150 ton aangesien die verskillende soorte bessies nou volwassenheid bereik het. Tans word daar drie variëteite bessies hier verbou. Ons het die AtlasBlue, JupiterBlue en BiancaBlue van die Amerikaanse produsent Fall Creek ingevoer en op die eiendom geplant. Die aanplanting is in November 2019 gevestig, met 16 ha onder nette, 2 ha in tonnels en 2 ha van die plante op ʼn oop veld.”

Mashare Berries beplan om sy produksiegebied teen die einde van 2021 te verdubbel.

“Uiteindelik wil ons binne die volgende vyf jaar bloubessieverbouing na 200 tot 300 ha in die streek uitbrei,” voeg Basson by.

Charles Cherry, die uitvoerende direkteur van Cherry Irrigation, meen die sukses van dié projek dui op die enorme onbenutte potensiaal van droë en halfdroë streke. “Hierdie gebiede kan ʼn reeks gewassoorte doeltreffend produseer deur die noukeurige bestuur van water en ander hulpbronne.

“Ons sien eerstehands uit hierdie ontwikkeling, en ander soortgelyke projekte waarby ons in Namibië betrokke is, dat aangepaste besproeiingsontwerp die pad van die toekoms is. Eenvoudig gestel, dit verseker omgewingsvolhoubaarheid én kommersiële winsgewendheid op lang termyn.”

Bloubessies moet met die hand geoes word sodat dit nie beskadig of kneus nie. Mitrud Shirongo en Ester Marungu van Mashare is besig op die oeswerk te doen en is deel van die groot werksmag wat in die oesseisoen hier aangestel sal word. (Foto: Verskaf.)

Cherry beaam dat die uitleg van gehaltetoerusting en pasgemaakte ontwerpe, asook die gebruik van slim tegnologieë en kunsmatige intelligensie aanvanklik duur kan wees.

“Ons glo egter hierdie benadering is van sleutelbelang vir enige suksesvolle verbouing van gewasse soos bloubessies wat uiters sensitief is vir klimaattoestande en grond- en watergehalte. Kyk net wat kan ʼn mens bereik as jy dit reg doen.”

Basson stem saam dat die vennootskap met Cherry Irrigation juis gesluit is nadat hulle die sukses van dié pasgemaakte ontwerp van stelsels vir die bloubessie-aanplanting in Suid-Afrika gesien het.

“Soos ons, sien hulle ook die enorme landboupotensiaal van Namibië raak en is saam met ons ywerig om dit te ontsluit.”

Mashare Berries is deel van Mashare Irrigation, wat ʼn verskeidenheid van graan en groente produseer. Koring, mielies, sorghum, aartappels, uie en blomkool is van die produkte wat hier in die Kavango-Oos vir die plaaslike Namibiese mark verbou word.

“Met die regte spanne, beleggers en ondernemings aan boord, het Namibië groot potensiaal as produksiekern van vars produkte van wêreldgehalte. Daar is ʼn strewe om plaaslike hulpbronne na behore te ontwikkel en meer plaaslike produkte te produseer wat die invoerbehoefte van dié land sal verminder,” sê Cherry.

Hy meen sy maatskappy is trots daarop om deel te wees van hierdie ontwikkeling. “Ons dra ons kennis en ervaring by om waarde op lang termyn toe te voeg. Bloubessies is net die begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christo ·

Bloubessies is baie gewild in Europa en fliekgangers vervang selfs springmielies met bloubessies as hulle gaan fliek. Landbou het telkemale bewys dat dit volhoubare werkskepping tot gevolg het. In SA is die regering so vol snert dat boere nie meer wil belê in projekte soos hierdie geval is. Namibië is polities meer volwasse as wat SA ooit kan droom. Ek verstaan nou nog nie hoekom my ouers in 1960 teruggekeer het na die ‘Republiek’ nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.