Smith & Wesson skuif eerder na vuurwapenvriendelike staat

(Foto: Smith & Wesson/Facebook)

Die vuurwapenvervaardiger Smith & Wesson het Donderdag aangekondig dat hy sy hoofkantoor na die vuurwapenvriendelike suidelike staat van Tennessee gaan verskuif in die lig van ʼn vyandige politieke klimaat in Massachusetts.

Die 169 jaar oue vuurwapenvervaardiger skuif 750 poste uit Springfield, Massachusetts, na Maryville, Tennessee. Dié twee stede is ongeveer 1 400 km van mekaar. Plaaslike owerhede het ingestem om belastingkorting en ander aansporings toe te staan.

Mark Smith, uitvoerende hoof, het verwys na wetgewing wat onlangs in Massachusetts ingestel is wat “die maatskappy sal verbied om sekere vuurwapens in die staat te vervaardig”, aldus ʼn persverklaring.

“Dit was ʼn ongelooflike moeilike en emosionele besluit vir ons, maar ná ʼn omvattende en deeglike analise, vir die voortgesette welvaart en krag van ons ikoniese maatskappy, voel ons dat ons met geen ander alternatief gelaat is nie,” het Smith gesê.

“Die sterk ondersteuning wat ons van die staat Tennessee af ontvang het en die leierskap van Blount County deur dié proses, tesame met lewensgehalte, ʼn buitelug-leefstyl en lae lewenskoste in die groter Knoxville-gebied, sê vir ons Tennessee is ongetwyfeld die ideale ligging vir Smith & Wesson se nuwe hoofkantoor.”

Smith & Wesson beplan om steeds meer as 1 000 poste in Massachusetts te behou. Personeel in dié staat sal steeds metaalwerk, ontwerpwerk en ander funksies kan verrig, het Smith tydens ʼn konferensiegesprek met analiste gesê.

Die maatskappy sluit egter fasiliteite in Connecticut en Missouri en skuif sommige funksies na Tennessee.

Bill Lee, Republikeinse goewerneur van Tennessee, het die aankondiging verwelkom en sê die skuif beteken $125 miljoen se nuwe belegging in Tennessee en skep 750 poste.

“Ons pro-besigheid reputasie, vaardige arbeidsmag en toewyding tot die Tweede Amendement maak van Tennessee ʼn ideale ligging vir die vervaardiging van vuurwapens,” het Lee in ʼn persverklaring gesê. “Ons verwelkom Smith & Wesson in ons staat en is trots daarop dat dié Amerikaans-gebaseerde handelsmerk gekies het om hom hier te kom vestig.”

Plaaslike owerhede het ingestem tot padkonstruksie en basiese diensleweringsopgraderings as deel van ʼn belastingkorting vir Smith & Wesson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie J ·

Dit is reg so. Hoekom die ekonomie van n land/staat/provinsie/stad bevorder terwyl die heersers daarvan jou nie goedgesind is nie. Clover/ Lichtenburg is nog n sprekende voorbeeld daarvan.

Werner ·

Wonderlik om te sien dat die bestuur nog hulle eie besluite kan neem sonder om gedwing te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.