Snuffelrot tree af ná roemryke loopbaan

Magawa kry nou ‘n welverdiende ruskans nadat hy talle landmyne uitgesnuffel het. (PDSA/AFP)

ʼn Rot genaamd Magawa wat jare lank landmyne in die Kambodjaanse platteland uitgesnuffel het, gaan nou die tuig neergelê en sy welverdiende aftrede geniet.

Magawa, oorspronklik van Tanzanië, is opgelei deur die Belgiese welsynsorganisasie Apopo wat sê die rot het in sy loopbaan van vyf jaar lank landmyne oor 225 000 m² help uitsnuffel. Dit is die grootte van sowat 42 sokkervelde.

Nadat hy 71 landmyne en 38 ploftoestelle uitgesnuffel het, “word hy nou effe moeg”, sê Michael Heiman, die organisasie se programdirekteur in Kambodja.

“Die beste ding vir hom is om af te tree.”

Miljoene landmyne is tussen 1975 en 1998 in Kambodja gelê en dit het oor die jare duisende ongevalle veroorsaak.

Apopo het Magawa in Tanzanië opgelei om die chemiese element in springstof uit te snuffel deur hom met snoephappies te beloon. Sy gunstelinge was piesangs en grondbone.

Magawa stel die res van die span van ʼn moontlike landmyn in kennis deur die grond te krap.

Magawa in aksie met een van sy gunsteling snoephappies. (Foto: PDSA/AFP)

Hy kan binne net 30 minute skarrel oor ʼn gebied die grootte van ʼn tennisbaan, iets wat iemand met ʼn metaalverklikker vier dae sou neem om te doen.

Hy is egter groot genoeg om aan ʼn leiband te loop, maar terselfdertyd lig genoeg om nie die landmyne te laat ontplof nie.

Heiman sê Magawa sal nou doen waarvoor hy die liefste is – om aan piesangs en grondbone te knaag.

In September verlede jaar het die rot die dieregelyke van Engeland se hoogste burgerlike eer vir dapperheid ontvang vir sy vermoë om landmyne en ploftoestelle op te spoor.

Magawa was die eerste rot om die PDSA-medalje in die 77 jaar lange geskiedenis van die toekennings te ontvang. Hy sluit hom aan by ʼn uitgelese groep wat bestaan uit honde, katte en selfs ʼn duif.

Die organisasie sê 20 nuut opgeleide rotte het onlangs in Kambodja aangekom en het pas hul akkreditasie van die owerhede ontvang om landmyne te begin uitsnuffel.

Hulle het egter groot skoene om vol te staan.

Magawa is ʼn “baie uitsonderlike rot”, sê Heiman. “Ons gaan hom uiteraard geweldig tydens ons operasies mis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

De Reyter
Koop die rot broer, gebruik hom om tussen jou half gedienste krag stasies rond te loop
Dalk snuif hy swak parte uit wat jy vinniger Kan herstel, dalk net dalk kry ons minder loadshedding
Of soos jou maroela aan hangers Dink, gebruik hom om sabotasie uit te snif

Pietertjie ·

Dis nou oulik! Hy moes seker 100% suksesvol gewees het in sy loopbaan ;-)

Hendrik Marthinus ·

Ek stel voor, Mnr de Reyter stel die rot aan by Eskom
Dalk snuffel hy slegte parte uit en Spaar ons bietjie Loadshedding
Of beter nog, na bewering mense wat hom Wil laat sleg lyk
Kos beslis nie te duur nie, net neute af en toe

deHAS ·

Ek het nie geweet dat ‘n rot so ‘n oulike gesiggie kan hê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.