Só gebeur grondbesetting in Swakopmund

Ingang na Swakopmund

Ingang na Swakopmund

Grondbesetters het glo ʼn ooreenkoms aangegaan om nog ʼn stuk grond in Swakopmund in Namibië te bekom, het ʼn leier Maandag beweer.

“Dit is alles te danke aan die morele ondersteuning van die nuwe Namibiese Ekonomiese Vryheidsvegters (NEFF),” het Gotthard Kandune, woordvoerder van ʼn groep inwoners van ʼn informele nedersetting buite Swakopmund, gesê. “Die NEFF het self onderneem om kommersiële plase te beset. Ná onderhandelings Sondag met die polisie, het ons ʼn stuk grond bekom oorkant die erwe wat ons verlede week beset het.”

Kandume is die stigter en president van die Christian Democratic Voice (CDV), ʼn politieke party wat in 2012 gestig is.

“Ons is in kennis gestel dat die besette grond aan die Shack Dwellers Federation behoort wat reeds daarvoor betaal het,” het hy gesê. “Die polisie het met ons onderhandel om na die grond aan die oorkant te skuif, wat ons toe gedoen het. Ons beplan om Woensdag, op Oukersaand, die eerste hutte op te rig.”

Hy sê hulle noem die gebied Kandume’s Hillside.

Volgens die Swakopmund-munisipaliteit is niks egter finaal totdat die stadsraad ʼn besluit oor die grondkwessie geneem het nie. “Die stadsraad is tans in reses en enige aanbiedinge moet in Januarie tydens die volgende vergadering voorgelê word,” het Aili Gebhardt, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.

Olsen Kahiriri, woordvoerder vir NEFF, het gesê sy party werk saam met die CDV oor die grondbesetting by Swakopmund. “Ons wil die groep gelukwens omdat hulle suksesvol grond op ʼn vreedsame en ordelike wyse beset het,” het hy gesê. “Verdere grondbesettings in Namibië kan volg. Ons sal in Januarie plase in die Okoakarara-gebied, 300 km noord van Windhoek, teiken. Ons sal die heinings knip en ons diere daarop vrylaat om te wei. Ons wag al lank vir ons regering om op die grondkwessie te reageer, maar hulle het nog niks gedoen nie, so nou tree ons op.”

Die NEFF is in Junie vanjaar op die been gebring en word gekoppel aan Julius Malema se party, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) in Suid-Afrika.

Die NEFF, onder leiding van sy president Epafras Mukwiilongo, ʼn voormalige Swapo-partyleier, beskryf homself as ʼn radikale linkse, anti-kapitalistiese en anti-imperialistiese beweging. Die party is “teen buitelandse uitbuiting” van Namibië se natuurlike hulpbronne, insluitend grond, wat aan die “inheemse mense” behoort.

Die NEFF het in November tydens die verkiesing slegs 3 259 stemme gewerf en het nie ʼn setel in die parlement ontvang nie. Die regering het in 1995 sy grondhervormingsbeleid in werking gestel. Die regering koop kommersiële plase indien boere bereid is om hul grond te verkoop. ʼn Jaarlikse grondbelasting vir kommersiële plase is ʼn paar jaar gelede ingestel waarmee die regering die plase opkoop.

Die regering het tot dusver meer as 2 miljoen hektaar grond teen N$900 miljoen bekom deur die vrywillige koper/vrywillige verkoper-beleid. Ongeveer 5 000 mense is hervestig.

Lees alle vorige berigte oor Swakopmund op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.