Só het raaiselvoëltjie op afgeleë eiland beland

Suid-Afrikaanse kenners van die Universiteit van Kaapstad en internasionale kollegas, het dié voël geïdentifiseer op Inaccessible-eiland, in die suidelike Atlantiese Oseaan. Foto: Peter Ryan/Universiteit van Kaapstad.

ʼn Voëltjie met bruin vere, ʼn swart snawel en pote, en rooi oë wat op ʼn verre eiland woon, is nou amptelik die wêreld se kleinste voël wat nie kan vlieg nie.

Suid-Afrikaanse kenners van die Universiteit van Kaapstad en internasionale kollegas het dié voël geïdentifiseer op Inaccessible-eiland, in die suidelike Atlantiese Oseaan. Dit is 2 800 km weg van enige vasteland, tussen Afrika en Suid-Amerika, en daar is nie mense, reptiele, amfibiese diere, skoenlappers of selfs slakke nie.

Dit is wel die enigste plek op aarde waar dié voëltjie, bekend as ʼn waterral (Atlantisia rogersi) gevestig is en daar is net 5 500 van hulle. Die genusnaam is in 1923 gegee deur dr.  Percy Lowe, van die Britse Museum, en hy was so oorweldig deur die afgeleë eiland, hy het dit met die mitiese Atlantis vergelyk.

Dié waterral is die kleinste voëltjie op aarde wat nie kan vlieg nie, hulle woon 2 500 km van enige vasteland en hoe hulle daar gekom het, en nie meer kan vlieg nie is nou opgelos deur onder meer kenners aan die Universiteit van Kaapstad. Foto: Peter Ryan/Universiteit van Kaapstad.

Volgens die studie in die vakjoernaal Science Direct, waarin dié werk verskyn het, is die voël tussen 13 en 15,5 cm groot en weeg hy maar tussen 34 en 49 g – minder as ʼn hoendereier. Daar was al ʼn kleiner voël wat nie kon vlieg nie, maar dié het uitgesterf.

Die groot raaisel vir byna ʼn 100 jaar was: hoe het die voël daar gekom, as hy nie kan vlieg nie? Dr. Martin Stervander aan die Lund Universiteit, en hoofnavorser, het in ʼn verklaring gesê die voëls kon óf soontoe gevlieg het óf op dryfhout daar aangekom het, soos dikwels gebeur. DNS het die raaisel opgelos.

Omdat daar nie roofdiere was nie en genoeg kos, het hulle nie nodig gehad om te vlieg nie. Stelselmatig het dié ral sy vermoë om te vlieg verloor.

Inaccessible-eiland, in die suidelike Atlantiese Oseaan. Dit is 2 800 km weg van enige vasteland, tussen Afrika en Suid-Amerika, en daar is nie mense, reptiele, amfibiese diere, skoenlappers of selfs slake nie. Dit is waar die kleinste voeltjie op aarde ‘n waterral, leef. Kaart: ScienceDireact/Stervander et.al

ʼn Jaar gelede het kenners DNS versamel van een van die mannetjies en dit getoets. Daar is gevind hulle naaste familielede is ʼn spikkelvlerk-rietaan van Suid-Amerika, sowat 3 500 km weg. Die ontleding het ook getoon tussen drie en 1,5 miljoen jaar gelede het die voëls daar aangekom, en toe aangepas.

Daar is nog 32 ander waterral-spesies wat hulle vermoë om te vlieg verloor het, en hulle leef ook op eilande. Maar indien rotte of muise op die een of ander manier op die eilande sou aankom, sal die voëls vinnig uitgewis word. Dit is wat tans aan’t gebeur is op Gough-eiland.

Volgens prof. Peter Ryan, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se Percy FitzPatrick Instituut vir Afrika-Ornitologie, wat drie maande op Inaccessible-eiland deurgebring het, is voëls van die ral-familie buitengewoon bedrewe om afgeleë eilande te koloniseer.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

TOEKOMS ·

En nog steetds glo mense nie in Evolusie nie .Wonder hoe gaan die mens lyk na 10000000 jaar .Daar is mos nou baie “roof diere” om ons .

Piet ·

Ek wonder wanneer het ‘n volstuis sy vermoe om te vlieg verloor?

Se maar net ·

Wat n klomp bollie. 1,5miljoen jaar gelede haha. Mense dink hulle is slim.

Steve ·

En jy glo seker aan die 6000 jaar storie nê?? As jy dink dat hul so slim is dan is jy seker slimmer as hulle want lyk my jy weet iets wat hulle nie weet nie…

Karolis ·

5500 van hulle oor ‘n tydperk van tussen 1.5 en 3 miljoen jaar.
Die voeltjies is maar aan die lui kant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.