Só lyk gevalle, sterftes in die buiteland

Anna Travezzano (39) is ‘n verpleegster in Bergamo in Italië. Die land se gesondheidswerkers is oorwerk weens die aantal Covid-19-pasiënte. (Foto: Antonio Calanni, AP)

Die VSA het nou meer as 104 000 gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld wat Covid-19 veroorsaak. Italië het in dié stadium die naasmeeste Covid-19-gevalle aangemeld, naamlik altesaam 86 498.

China, waar die virus in Desember uitgebreek het, het tot op hede 81 946 gevalle aangemeld.

Meer as 9 000 pasiënte in Italië het reeds weens die virus omgekom. Altesaam 5 138 sterftes is nou in Spanje, 3 295 in China en meer as 1 700 in Amerika aangemeld.

Italië het Vrydag 969 sterfgevalle aangemeld. Dit is die meeste pasiënte wat tot op hede in ’n kwessie van ’n dag in dié land weens Covid-19 omgekom het.

Indië het ook sy meeste gevalle in een dag aangemeld. Altesaam 149 gevalle is Vrydag in dié land aangemeld. Indië het tot op hede 873 bevestigde gevalle Covid-19 en 19 sterfgevalle.

Gesondheidswerkers daag Vrydag op vir hul skof by die Dongsan-hospitaal in Daegu. Suid-Korea. (Foto: Lee Yong-hwan/Newsis via AP)

Die situasie in Suid-Korea lyk egter bemoedigend. Teen Saterdag is meer as 4 800 pasiënte reeds uit isolasie ontslaan. Sowat 4 500 met Covid-19 ontvang tans nog behandeling in isolasie.

Dit is die eerste keer sedert die virus in Januarie in dié land uitgebreek het dat die aantal herstelde pasiënte die aantal pasiënte onder behandeling verbysteek.

“Daar is nog ʼn lang pad om te gaan, maar die herstelpersentasie van 50% is ʼn klein prestasie wat almal in ons samelewing saam moet vier,” het Yoon Tae-ho, direkteur-generaal van die land se openbare gesondheidsbeleid by die ministerie van gesondheid en welsyn, gesê.

Gevangenes word gedwing om ‘n goeie afstand van mekaar te hou by ‘n tronk in Hamirpur, Indië, (Foto: AP)

Beijing het op sy beurt nog drie bevestigde gevalle aangemeld nadat dié pasiënte onlangs na die VSA gereis het. Altesaam 156 pasiënte in Beijing het Covid-19 nadat hulle vanuit ander lande teruggekeer het. Die aantal gevalle weens plaaslike oordrag staan op 416. Altesaam 394 het reeds weens die virus herstel.

Altesaam 3 417 bevestigde gevalle Covid-19 is Vrydag in Brasilië aangemeld. Die getal het oornag met 502 gestyg. Die land het reeds 92 sterfgevalle.

Mianmar het Saterdag nog drie gevalle aangemeld. Die land het in dié stadium agt gevalle.

‘n Winkel is toegespan met plastiek in Nepal. (Foto: Niranjan Shrestha, AP)

Viëtnam het nou begin om streng maatreëls in te stel. Alle onnodige byeenkomste is reeds gekanselleer. Byeenkomste van meer as 20 mense word verbied.

Kambodja reik vanaf Maandag nie meer visums aan buitelanders uit vir die volgende maand nie. Meer as 100 bevestigde gevalle Covid-19 is hiér aangemeld.

Bronne: BBC, CNN, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Schalk N ·

My innige simpatie met al die werkers wat “verplig” word om gedurende hierdie tyd steeds hulle pligte na kom. Om te dink in watter vrees hulle almal moet wees. Ek salueer een en elk van julle ongeag ras of etniese afkoms…

Cherokee ·

Ek wonder of iemand wat daarvan herstel, umuniteit opbou daarteen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.