Só ontvou gebeure tydens Pentagon-skietery

Die Pentagon in Amerika (Foto: AFP)

Die FBI het die aanvaller geïdentifiseer wat Dinsdagoggend ’n polisiebeampte op ’n busplatform by die Pentagon in Amerika doodgesteek en daarna homself geskiet het. Dit het tot gevolg gehad dat die gebou en al sy bedrywighede vir byna twee ure lank tot stilstand geruk is.

Die aanvaller is geïdentifiseer as Austin William Lanz, ’n 27-jarige inwoner van Acworth in die Amerikaanse deelstaat Georgia.

Volgens die FBI het Lanz die oggend uit die bus op die busplatform by die Pentagon geklim en die polisiebeampte, George Gonzalez, met ’n mes aangeval. Gonzalez was ’n beampte verbonde aan die Pentagon – die hoofkwartier van die Amerikaanse ministerie van verdediging.

Die busplatform is omtrent ’n meter weg van ’n ingang van die Pentagon geleë. Dié ingang word daagliks deur duisende personeellede gebruik om die gebou binne te gaan en te verlaat.

“’n Struweling het tussen Gonzalez en Lanz ontstaan. Lanz het Gonzalez in die proses met die mes gesteek. Hy het daarna Gonzalez se vuurwapen gegryp en homself geskiet,” het die FBI in ’n verklaring gesê.

“Ander beamptes het nadat die skoot afgegaan het na die toneel gehaas. Lanz is op die toneel dood verklaar. Dit is nie duidelik of die beamptes ook skote op Lanz afgevuur het nie, maar getuies het gesê daar was ’n skietgeveg.”

Gonzalez is per ambulans na die George Washington University-hospitaal geneem waar hy aan sy steekwond(e) beswyk het.

’n Omstander het tydens die voorval ligte beserings opgedoen en is ook na die hospitaal geneem. Hy is sedertdien ontslaan.

Volgens die FBI is die motief van die aanval nog nie bekend nie.

Volgens plaaslike nuusberigte in Georgia het Lanz ’n lys van vorige oortredings teen hom. Hy is daarvan beskuldig dat hy onder meer ’n polisiebeampte aangeval het, terreurdreigemente gemaak het en by ’n huis ingebreek het.

Hy was glo uit op borgtog en is deur ’n regter beveel om vir psigiatriese waarneming te gaan.

Maroela Media het vroeër berig personeellede is ná die eerste skoot geklap het, opdrag gegee om in die gebou skuiling te vind. Die polisie het 90 minute ná die voorval die toneel veilig verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nell ·

Lanz was seker ‘n Trump ondersteuner wat sy mes in gehad het vir Gonzales.

annie ·

So maklik is dit. Die Pentagon is ‘n vyfkantige sirkus met busse wat ‘n meter van die deur stop seker om die reën weg te keer van die base se slim koppe. En toe reën dit nie.

Jaco ·

Wat dan nou van Joe Biden en sy hoogheilige Demokrate se “healing” nadat hulle weggedoen het met “rassistiese” Trump?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.