Só soek Australiese polisie nou na Cleo

Cleo Smith (4) was saam met haar ouers by ’n kampterrein in Wes-Australië toe sy in die nag uit hul tent verdwyn het. (Foto: Facebook / Ellie Smith)

Die polisie in Wes-Australië is nou op soek na beeldmateriaal van paneelbord- of veiligheidskameras binne ʼn 1 000 km-radius van die Blowholes-kampterrein waar Cleo Smith (4) byna twee weke gelede verdwyn het.

Dít sluit beeldmateriaal in van kameras in kinderklerewinkels, vulstasies, motelle, stilhouplekke vir vragmotors, kampeerwinkels en gratis geriewe, asook apteke en kosmetiekwinkels.

Die polisie soek spesifiek beeldmateriaal tussen die kampterrein en die kusdorp Carnarvon, maar net so ver suid as Lancelin – ʼn vissersdorpie sowat 127 km noord van Perth – wat tussen 18:00 op 15 Oktober en 06:00 op 17 Oktober geneem is.

Cleo se ma, Ellie Smith, het Woensdag opnuut ʼn pamflet met haar dogter se foto en inligting op haar Instagramprofiel gedeel. Daar is ook ʼn $1 miljoen-beloning (sowat R15 miljoen) vir inligting wat tot haar opsporing kan lei.

Maroela Media het vroeër berig Cleo en haar rooi-en-swart slaapsak het uit die tent wat sy met haar ma, stiefpa, Jake Gliddon, en kleinsus, Isla Gliddon, gedeel het, verdwyn.

Die gesin het saam gekampeer en Smith het haar dogtertjie omstreeks 01:30 die betrokke Saterdagoggend die laaste keer gesien toe sy vir water gevra het. Enkele ure later was die kleuter skoonveld.

Die Australiese polisie glo Cleo is ontvoer en is tans met ʼn uitgebreide soektog besig.

ʼn Sedan wat glo omstreeks 03:00 op Saterdag 16 Oktober by die Blowholes-kampterrein uitgery het, word ook deur die polisie gesoek. Die motor het glo op die North West Coastal-snelweg koers gevat en in die rigting van Carnarvon gery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggies ·

Waarom hoor mens niks van haar biologiese vader nie? Dit is die vreemdste van alles.

piet ·

Kry die SA se spesiale polisie taakmag in om te help. Hierdie ouens sukkel. Hulle kry te min van die tipe sake nou weet hulle nie wat om te doen nie. Ons ouens is “battle hardened” en doen BAIE ondervinding op.

Charl ·

Piet, jy hou van grappies maak ! Miskien nog in die ou bedeling maar defnitief nie hierdie lot van vandag nie, hulle kan nie eers dit wat hulle hier ter plaatse moet doen na behore regkry hoe dink jy gaan hulle in die buiteland vaar ? Laat dit dan maar eerder oor aan Australie se eie SAS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.