Só word koningin Elizabeth II se 70 jaar op die troon gevier

Koningin Elizabeth II. (Foto: Scott Hepell/AFP)

Koningin Elizabeth II se 70ste rekordjaar op die Britse troon word vandeesweek tydens haar platinum-jubileum gevier met onder meer militêre parades, straatpartytjies en ʼn popkonsert buite Buckingham-paleis.

Maroela Media het vroeër berig dat die 96-jarige koningin in Februarie vanjaar amptelik die eerste Britse monarg geword het om sewe dekades lank te regeer nadat sy op 6 Februarie 1952 op 25-jarige ouderdom die troon bestyg het ná die dood van haar pa, koning George VI.

Twee openbare vakansiedae is opsy gesit om ʼn vierdaagse naweek te skep vir landwye geleenthede wat haar bewind van 2 tot 5 Junie sal herdenk.

Suid-Afrikaanse gehore kan ook die jubileum-program op BBC Lifestyle (DStv-kanaal 174) volg, asook splinternuwe dokumentêre én die koningin se kroningseremonie van 1952.

Donderdag 2 Junie

In Brittanje word die koningin se verjaardag gewoonlik op die tweede Saterdag in Junie gevier met die Trooping of the Colour-plegtigheid en die uitreiking van haar verjaarsdag-eerbewyslys.

Meer as 1 200 Britse soldate neem aan dié tradisionele seremonie deel en prins William, die hertog van Cambridge, is verlede week gewaar toe hy ʼn kleedrepetisie daarvoor in Londen gelei het.

ʼn Hoogtepunt van die geleentheid – wat meer as twee eeue terug dateer – is natuurlik die koninklike familie se verskyning op die balkon van Buckingham-paleis, om vir skares te waai en na die verbyvlieg van militêre stralers te kyk.

Verskynings is vanjaar tot slegs werkende koninklikes beperk, wat beteken dat prins Andrew, die hertog van York, en prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex, nie vanjaar op die balkon sal verskyn nie.

Meer as 2 800 bakens sal ook by die paleis en oor die hele Verenigde Koninkryk aangesteek word, waaronder bo-op die land se vier hoogste pieke, asook op die Kanaaleilande, die eiland Man en Britse oorsese gebiede.

Vlammende huldeblyke sal ook in 54 Statebond-hoofstede oor vyf kontinente gesien word, van Tonga en Samoa in die Suid-Stille Oseaan tot Belize in die Karibiese Eilande.

Vrydag 3 Junie

ʼn Nasionale dankseggingsdiens vir die koningin se rekordbewind vind by Londen se St. Paul-katedraal plaas, wat ʼn seldsame lui van die Big Paul-klok sal insluit.

Big Paul, gegiet in 1882, is die grootste kerkklok in Brittanje. Sy meganisme het in die 1970’s gebreek, maar dit is verlede jaar tot sy eertydse glorie herstel.

Dit is sedertdien nog net agt keer gelui, en nooit vir ʼn koninklike geleentheid nie.

Die koningin het nog altyd ‘n liefde vir perde gehad. (Foto: royal.gov.uk)

Saterdag 4 Junie

Die koningin, ʼn ywerige aanhanger van perdewedrenne, sal na verwagting die Epsom Derby-perdewedren bywoon en daarna saam met 22 000 mense – onder wie 5 000 sleutelwerkers soos frontliniemedici – die BBC Platinum Party by Buckingham-paleis bywoon.

Kunstenaars soos Alicia Keys, Queen en Adam Lambert, Motown-legende Diana Ross, Britse ikoon Elton John en die Italiaanse tenoor Andrea Bocelli gaan die skare tydens die musikale extravaganza vermaak.

Dié konsert kan ook regstreeks op BBC Lifestyle gevolg word.

Sondag 5 Junie

Die koningin in haar kenmerkende goue koets. (Foto: royal.gov.uk)

Die Britse regering het aangekondig dat meer as 70 000 mense geregistreer het om jubileum-middagetes oor die land heen aan te bied, met 10 miljoen mense wat na verwagting kos en geselligheid met hul bure sal deel.

Meer as 600 middagetes is verder regdeur die Statebond, van Kanada tot Brasilië, Nieu-Seeland tot Japan en Suid-Afrika tot Switserland, beplan.

Die koningin sal ook in haar kenmerkende goue koets aan ʼn openbare parade deur sentraal-Londen deelneem en terug na Buckingham-paleis vervoer word.

ʼn Unieke musikale vertoning, waarby sowat 10 000 mense betrokke is, sal dan vertel hoe die Britse samelewing verander het sedert die koningin in 1952 tot die troon toegetree het.

Die Britse sanger Ed Sheeran sal die feesvieringe op ʼn hoë noot afsluit met die sing van die volkslied, “God Save the Queen”, buite Buckingham-paleis.

Bronne: AFP, BBC Africa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

Daar is “regerings” in Afrika wat net so aan hulle mag vasklou tot die dood toe.

Manie ·

Ek herdenk eerder vandag 31 Mei 1961 toe SA ‘n Republiek geword het en onder die Engelse juk uitgestap het, dis vir my van groter belang.

Delia ·

Jip. Gaan lees bietjie oor die konsentrasie kampe. Regoor die wereld het die Crown hulle verhewe bo ander beskou en oral gaan inmeng en afskuwelike dade gedoen onder die vaandel van die Crown. Gaan kyk die fotos en sien hoe hulle ons uitgehonger het en nie net die blankes nie.
Nee dankie. Dankie vir vandag. 31 Mei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.