Soektog na beampte, gevangene eindig tragies

Casey White en Vicky White. Die twee is nie verwant nie. (Foto: Twitter)

Die grootskaalse soektog na ’n voortvlugtende Amerikaanse korrektiewediensbeampte en gevangene het Maandag op ’n tragiese wyse geëindig toe die beampte haarself om die lewe gebring het.

“Dit het geëindig soos ons geweet het dit sou,” sê die sheriff van Lauderdale County in die Amerikaanse deelstaat Alabama waar die twee einde verlede maand soos mis voor die son verdwyn het.

Vicky White (56) het haarself geskiet kort nadat die polisie haar en Casey White (38) in Indiana opgespoor het, waar hul motor in ’n sloot beland het. Sy is later in die hospitaal dood verklaar.

Casey, wat teregstaan op aanklag van moord, is op die toneel in hegtenis geneem en het ligte beserings tydens die inhegtenisneming opgedoen.

“Ons het vandag ’n gevaarlike man van die straat af verwyder. Hy gaan nooit weer die lig sien nie,” sê sheriff Rick Singleton.

Vicky en Casey was na bewering in ’n romantiese verhouding betrokke toe hulle sowat tien dae gelede uit ’n tronk verdwyn het. Die twee is egter onlangs by ’n hotel gewaar voordat ’n wenk by die polisie ingedien is.

Chris Swecker, ’n voormalige FBI-assistentdirekteur, het aan CNN gesê die saak was ’n geval van iemand wat “op die verkeerde plekke na liefde soek”.

“Jy het hierdie wag wat verlief raak op ’n gevangene wat haar waarskynlik oor ’n tydperk daarop voorberei het,” het Swecker verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig Vicky het kort voor haar en Casey se verdwyning aftreevorms ingedien. Sy werk al sowat 25 jaar by die departement van korrektiewe dienste en is ʼn assistentdirekteur by die kantoor van die sheriff.

Vicky het op die dag voor haar aftrede gesê sy neem Casey vir sielkundige evaluering, maar amptenare het later besef dié afspraak is nooit geskeduleer nie.

Ondersoekers sou later vasstel dat Vicky weke voor die verdwyning haar huis verkoop het en sowat $90 000 by verskeie banke in die omgewing onttrek het.

White (38) is in September 2020 op twee aanklagte van moord aangekla nadat hy die 58-jarige Connie Ridgeway met ’n mes doodgesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Vrouebeamptes is nooit ‘n goeie idee as dit by manlike gevangenis kom nie. Was al heelwat soortgelyke voorvalle en kanse skraler by selfde geslag gevangenis. Steeds kanse daarvoor, maar sommiges buit die situasie uit as dit kom by enkel vrouens wat opsoek is na liefde en alleenlopend is.

E ·

Manlike bewaarders by vroulike selle is ook nie ‘n goeie idee nie, hulle verkrag en seksueel teister soms die vroue, en kan ook gamanipuleer word. Klink my daai tronk het ‘n paar swak plekke met hulle beweging van gevangenes,

Swerwer ·

“Ons het vandag ’n gevaarlike man van die straat af verwyder. Hy gaan nooit weer die lig sien nie,” sê sheriff Rick Singleton. Klink soos musiek in ‘n mens se ore. Hoekom kan dit nie hier by ons ook plaasvind nie. Hier loop die boewe/moordenaars/plunderaars op straat en daar word nie teen hul opgetree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.