Soektog na jong sokkerspan duur steeds voort

Personeel van die Amerikaanse soek-en-reddingspan stap in die grot waar die jong sokkerspelers en hul afrigter vermis word (28 Junie 2018). Foto: Sakchai Lalit/AP

Die soektog na ʼn jong sokkerspan en hul afrigter wat al dae lank in ʼn grot in die provinsie Chiang Rai in Thailand vasgekeer is, duur nog voort.

Dit is die sewende dag wat die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige afrigter in die grot vasgekeer is.

CNN berig reddingswerkers het ʼn potensiale toegangspunt tot die grot gekry en ondersoek nou die moontlikheid of die natuurlike skoorsteen, 1,5 m in diameter en 22 m diep, op die Pha Mee-berg met die grotte verbind.

Reddingswerkers het sedert Donderdag al langs die berghange gesoek vir ander ingange na die oorspoelde grotnetwerk. Voortdurende reënval oor die afgelope paar dae het reddingspogings gekniehalter en die reddingsoperasie moes al telkemale opgeskort en later weer hervat word.

Die vermiste seuns en hul afrigter het die Tham Luang Nang Non-grot Saterdagmiddag binnegegaan. Die groep kom van die stad Chiang Rai af.

Die grotkompleks strek oor etlike kilometers met smal voetpaadjies, oneweredige grond en baie min tot geen lig binne. Besoekers word net toegelaat om die grot so ver as ongeveer 700 m diep binne te gaan, maar daar word vermoed dat die seuns baie dieper as dit ingekruip het.

Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel. ʼn Kennisgewing by die ingang na die grot, wat ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid is, waarsku dat dit gevaarlik is om die grot binne te gaan gedurende die reënseisoen.

Die groep het klaarblyklik dié waarskuwing geïgnoreer en in die grot ingekruip. ʼn Parkbeampte het Saterdagmiddag onraad vermoed toe hy ʼn klomp fietse opgemerk het wat by die ingang na die grot staan.

ʼn Amerikaanse militêre span en Britse grotkenners het by die Thaise reddingspanne aangesluit. Daar is vandeesweek bekendgemaak dat die watervlakke in die grot ongeveer 15 cm per uur gestyg het, wat dit nog moeiliker maak om deur die nou paadjies in die grot te beweeg.

“Daar is nie veel wat ons nou kan doen nie,” het Anupong Paojinda, minister van binnelandse sake, gesê. “Ons sal moet wag dat die watervlakke daal. Duikers kan nou niks doen nie.” Hy het bygevoeg ʼn sleuteldeurgang in die grot is heeltemal onder water.

Owerhede hoop egter steeds dat daar droë plekke op hoër grond binne die grot is waar die groep moontlik wag om gered te word.

Die sokkerspan en hul afrigter wat vermis word. Foto: Via nationmultimedia.com

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karolis ·

Ek wonder net, om ‘n poging aan te wend om van die water uit te pomp sou seker betekenisvol wees.

SNEL ·

Ja, wonder hoekom pomp hulle nie die water uit nie, of is dit n probleem as die water modderrig is. Sjoe, wonder of hulle veilig daar binne is op droë grond. Arme kinders, die vrees en angs. Ons kan net bid dat hulle gou gekry word.

Thai ·

Hulle het 5 groot pompe waarmee hulle water uitpomp. Dit reen egter baie en baie afloop water van oral vloei ook na die grot toe. Ja dit is hartseer en 7dae is lank om hulle lewend te vind. Maar by God is enigeiets moontlik as hulle net in Hom wil glo

madels ·

My hart is in stukke oor hierdie kinders en hul gids… dis verskriklik om te dink hulle is vasgekeer in die grot, mag hul lewend gevind word, asb Jesus, ek bid dit in U kosbare Naam

Blommie ·

Maar wat van die duikers, hoekom kan hulle nie net aanhou soek nie. Het mos suurstof bottels om hulle vir n paar ure aan die gang te hou en as jy bang is jy verdwaal. Kry n lyn wat jy agter jou aanhou om terug te volg of kyk ek nou teveel flieks.
Hoop ook werklikwaar hulle word veilig gevind, dit moet verskriklik wees vir die ouers en familie wat wag op antwoorde. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.