Soektog na kleuter op kampterrein gestaak

Cleo Smith (4) was saam met haar ouers by ’n kampterrein in Wes-Australië toe sy in die nag uit hul tent verdwyn het. (Foto: Instagram / Ellie Smith)

Die soektog na die vermiste Cleo Smith (4) in en om die Blowholes-kampterrein in Macleod, Wes-Australië, waar sy Saterdagoggend spoorloos verdwyn het, is Vrydag ná sewe dae afgelas.

ʼn Spesiale taakmag van meer as 100 polisiebeamptes sal nou ʼn uitgebreide soektog na die kleuter voortsit.

Luidens berigte op die internasionale nuusblad ABC News glo die Australiese polisie dat Cleo uit die tent waarin sy en haar gesin geslaap het, ontvoer is.

“Die feit dat die soektog op en om die kampterrein al so lank aangaan sonder dat ons haar opgespoor het – veral gegewe die aantal hulpbronne wat ons ingespan het – laat ons glo dat sy uit die tent gevat is,” het speursersant Rod Wilde aan ABC gesê.

Die moontlikheid dat sy reeds uit die omgewing geneem is, selfs uit die staat, word ook nie uitgesluit nie.

Cleo Smith en haar kleinsus, Isla Gliddon. Cleo het dié slaappakkie ten tyde van haar verdwyning aangehad. (Foto: Facebook / Ellie Smith)

Die gesin, wat sowat 75 km van die kampterrein woon, het die afgelope week in ʼn hut naby die kampterrein gebly terwyl owerhede na Cleo gesoek het. Hulle het ook intussen huiswaarts gekeer.

Cleo se ma, Ellie Smith, het vroeër in ʼn video op Facebook gesê dat haar dogter nooit alleen sou afdwaal nie.

Die polisie het Vrydagoggend ʼn finale ondersoek van die gebied om Blowholes te perd en met behulp van hommeltuie gedoen.

Hoewel die kampterrein Vrydag weer vir die publiek sal oopmaak, het polisie ʼn beroep op kampeerders gedoen om steeds op die uitkyk te wees vir Cleo.

Inwoners en plaaslike ondernemings het intussen ook kragte saamgesnoer om die publiek van Cleo se verdwyning bewus te maak.

Cleo Smith by haar ma, Ellie, stiefpa, Jake Gliddon en die paartjie se babadogter, Isla Gliddon. (Foto: Facebook / Ellie Smith)

Maroela Media het vroeër berig dat Cleo en haar rooi-en-swart slaapsak verdwyn het.

Sy het saam met haar ma, stiefpa, Jake Gliddon, en kleinsus Isla gekamp. Almal was tydens Cleo se verdwyning glo vas aan die slaap. Haar ouers het opgemerk sy is weg toe hulle omstreeks 06:00 Saterdagoggend wakker geword het. Die ritssluiter van die tent was glo byna heeltemal oop.

Australiese owerhede het intussen $1 miljoen (byna R11 miljoen) uitgeloof vir inligting wat tot die kleuter se opsporing kan lei.

Die polisie het nog geen inligting oor enige verdagtes bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Cherokee ·

Australië gee nie R11 miljoen nie, maar 1$ Australiese dollars. Dit is slegs 11m werd as dit na Suid Afrika gebring word. Slegs die media se manier om indrukwekkende syfers te publiseer, deur dit te vergelyk met ons powere valuta waardes.

Maggies ·

Ek wonder of hulle al by haar biologiese pa gaan soek het.

Prontuit ·

ek kan my nie eers indink daai mamma se angs en vrees nie ooi dis baie hartseer ek hoop en bid hulle kry haar ongedeerd, ai ons mensdom is siek

Linda ·

Was die kind in n aparte tent van haar ouers, of was hulle almal saam in een tent? Hoe slaap ‘n ma so vas dat sy niks hoor nie. As mens sulke klein kindertjies het slaap jy mos maar lig en is onbewustelik ingestel op hulle bewegings en so deur die nag.

Elmarie ·

Hulle het in dieselfde tent geslaap. Ek het ook geownder hoe mens niks hoor as jou tent oop gemaak word en jou kind gevat word nie.

Danie ·

Linda, jy kan nie kies of voorspel hoe vas of nie jy gaan slaap nie. Dis nie die ma se skuld nie. Dis ook nie SA waar jy nie kan waag om buite te slaap nie. Hierdie was buite die gesin se beheer en die blaam moet 100% wees op die siek persoon wat haar gevat het.

Nettie ·

So ek verstaan het sy in n ander kamer wat aan die tent is geslaap het.

Misky ·

Laat mens dink aan die verdwyning van klein Madeleine McCann jare gelede. So bitter hartseer en sterkte aan die ouers

Ansie ·

Klink maar vreemd. Die persoon wat haar geneem het, het presies geweet waar om haar te vind. Wat van haar biologiese pa?

Shakespeare ·

Vreesaanjaend. Sterkte vir die ouers. Die PA is die skuldige wat my aanbetref.

Niklaas ·

Daardie arme moeder . So iets sal my van my kop af dryf. Mag sy gou (lewendig) opgespoor word.

Harley Davidson ·

Daar was jare terug ook so geval by Aires rock maar dit was ‘n dingo wat die dogtertjie gevat het as ek reg kan onthou was baie jonk gewees dáárdie tyd

RB ·

Jy’s reg. Die ma is tronk toe vir moord maar ‘n paar jaar later vrygelaat nadat bewyse gevind is wat bewys dingo het baba gevat.
Sy het finansiële kompensasie gekry.

Daar is ‘n fliek hiervan gemaak.

Johanna ·

Daardie overhead moes onmiddelik die fotos van die kind begin verdprei het met alle moontlike manuere van vermommings bv hare? Klere? Skoene? Kleur van haar hare dalk vermom as n seuntjie. Almal wat die
Vorigie dag enigsins met haar of ouers in aanraking was. Almal wat dag besoekers by die kampeer terrain was
Dit is verskriklik.
Ek bid hulle kry haar gou..

Mariaan ·

Ek wonder net hoe hoor jy nie die zip van die tent nie…maar ja tente verskil…veral die dun gewone tente..zips maar treurig…ons n army tipe tent en dit lawaai erg as oopmaak…maar dis n ramp…ek sal letterlik my kop verloor! Klink wel of hierdie n beplande storie was…presies geweet waar sy was ens….ek hoop regtig sy word veilig gekry

Nettie ·

In die vorige berig was dit dat sy alleen in die ander vertek se tent geslaap het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.